Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika

DIE TRADISIONELE BOEREMUSIEKKLUB VAN SUID-AFRIKA

Nico Blom

Nico en Amanda Blom

Nicolaas Willem Blom is op 13 Mei 1958 in die Barkly-Oos distrik gebore. Hy kom uit ‘n baie musikale familie waar daar sommer baie musiek gemaak is om die kombuistafel saam met sy pa, oupa en ooms. Dit is veral sy oupa, Jannie Strydom wat vir hom ‘n liefde vir die konsertina en boeremusiek gegee het. Hy het as kind baie aande langs die ou koolstoof op die plaas gesit en luister hoe hy sy oupa soms treurige en ander kere weer opgewekte wysies gespeel het.

Na skool in 1977 het hy sy Polisie opleiding gedoen. Met die dag van uitpasseer het ‘n offisier van die SAPS- orkes gekom om lede te werf vir die Polisie dansorkes. Die keuse was vir hom voor die hand liggend.

Hy was dus van 1977 in die SAPS Orkes. Hy sê dat hy bevoorreg was om in hierdie tydperk deur die land te kon reis en verskeie begaafde musikante as kollegas te kon hê.

Nico is op 4 Julie 1981 getroud met Amanda en 3 kinders is uit die huwelik gebore. 

Nico en Amanda Blom op hul troudag

Hy het ‘n jaar of wat gelede op pensioen gegaan. Hy was nog steeds besig met musiek maak. Hy het ook mense gehelp om die konsertina baas te raak. Nico het ook vir oom Danie Labuschagne boerekonsertinas help bou. Hy was dan ook geoormerk om die besigheid oor te neem.

Na die afterwe van Sias Erasmus het Nico die voorsitterskap van die Pretoria tak van die TBK oorgeneem. Dit het hy met onderskeiding gedoen tot en met sy afsterwe. 

Nico was ‘n formidabele musikant en het die volgende instrumente bespeel: Engelse- sowel as boerekonsertina, kitaar, baskitaar, trompet, basviool en mandolien. Mens kon Nico enige tyd gevra het om te help met begeleiding. Nooit sou hy weier nie. 

Hy het ‘n gedig van CM vd Heever laat voorlees deur Marnus Kruger. Die persoon het ‘n Namakwalandse aksent. Die naam daarvan “Die konsertina in die nag”. In die agtergrond is die nommer van oom Japie Laubscher gespeel. Hy was verantwoordelik vir die instrumentale deel daarvan. Ek is gelukkig genoeg om die opname in my besit te hê.

Ek was so bevoorreg om ‘n hele paar keer saam met die begaafde musikant te kon musiek maak. Iets wat ek altyd sal onthou. Niemand het die Fynloop seties so mooi gespeel soos Nico nie. Vir my was hy een van die “ Gentlemans” van boeremusiek gewees.

Ongelukkig raak Nico siek van die Coronavirus. Hy beland in die intensiewe sorg van die Montana hospitaal. Met die skrywe van die huldeblyk was sy vrou Amanda nog steeds in die hospitaal gewees, besig om vir haar eie lewe te baklei.

Op 25 Junie 2021 verloor Nico die stryd teen hierdie gevreesde virus. Hy was maar 63 jaar oud gewees en het nog so baie gehad om te bied. Boeremusiek verloor nog een van sy groot musikante. Rus in vrede Nico en ek glo jy speel al klaar in een van die Hemelse orkeste.

~Hugo Radley

Leave a Comment