Die Klub

Die Tradisionele Boeremusiekklub van S.A. [TBK] is in 1981 gestig om tradisionele boeremusiek te versamel, uit te bou en die unieke karakter daarvan ongeskonde te bewaar. Takke het in verskeie stede en dorpe tot stand gekom en bied gereeld byeenkomste vir TBK-lede en medeliefhebbers aan.

Die meeste aandag is egter op die bereiking van die doelstellings van die TBK toegespits. Verskeie lede het naarstig die bekombare tradisionele musiek van heinde en verre versamel en dit is nou in ‘n elektroniese argief vir bewaring en vinnige beskikbaarheid geplaas. Heelwat van die musiek is op plate, kassette en laserskywe beskikbaar gestel en weer in omloop gebring. Die Oudagboereorkes en ander orkeste en musikante het ook van die musiek vars gespeel en die opnames is ook ter beskikking gestel. Op die oomblik werp al die pogings goeie vrugte af deurdat heelwat jongmense by die speel van tradisionele boeremusiek betrokke raak. Van die lede van die TBK het die tekort aan boerekonsertinas oorkom deur self instrumente van uitstaande gehalte te maak.

Veel is die afgelope jare tot stand gebring maar die groot uitdaging is nou om in ons elektroniese samelewing ons tradisionele musiek veral onder die jongmense, wyer bekend te stel en te bevorder.