Boeremusiek

Dit is ‘n vraag wat kenners al vir jare laat kopkrap en kan nie beantwoord word sonder ‘n mate van polemiek nie. In kort, definieër ons, Die Tradisionele Boeremusiekklub, dit as instrumentele volksmusiek wat dateer uit die era toe die persone wat dit beoefen het internasionaal bekend gestaan het as “Die Boere” van Suid-Afrika. Dit is informele musiek wat op ‘n kenmerkende manier gespeel word en is hoofsaaklik bedoel as begeleiding vir sosiale danse.

Hulle musiek is van die middel van die twintigste eeu af ook boeremusiek genoem. Die term het in omloop gekom sonder dat genoegsaam in ag geneem is dat die musiek waarna verwys word ‘n breër ontstaansbasis het as net diegene wat as “Boere” bekend was.

Vir die doeleindes van hierdie webblad word ander tipes Afrikaanse musiek uit dieselfde periode, soos ballades, serenades asook musiek gemik op ‘n passiewe gehoor, soos kunsmusiek en klassieke musiek, uitgesluit.