Grondwet

  1. Naam:
    Die naam van die klub sal wees die “TRADISIONELE BOEREMUSIEKKLUB VAN SUID-AFRIKA” hierna die Klub genoem.
  2. Doelstellings:
    2.1 Die versameling en uitbou van tradisionele boeremusiek.
    2.2 Om die onvervreembare en unieke karakter van tradisionele boeremusiek ongeskonde te bewaar, hierna afgekort na TBM.
  3. Uitvoer van doelstellings:
    Die Klub sal streef om sy doelstellings aktief te bevorder deur:
    3.1 Persone, wat die doelstellings onderskryf, byeen te bring.
    3.2 Die beoefening van TBM aan te moedig en leiding aan voornemende musikante te verskaf.
    3.3 Toe te sien dat TBM die nodige publisiteit in die media geniet.
    3.4 Te reël, of om te onderneem, afhangende van die omstandighede, dat laserskywe (CD’s) en kassette van sowel ou 78-spoed plate as van nuwe vertolkings van TBM gemaak en versprei word.
    3.5 Navorsing oor die historiese ontwikkeling van TBM te stimuleer of te onderneem.
    3.6 Die komponeer van nuwe stukke in die TBM-idioom aan te moedig.
    3.7 Die veilige bewaring van alle versamelstukke te verseker.
    3.8 ‘n Nuusbrief uit te gee.
    3.9 Takke te stig om lede in verskillende geografiese sentra bymekaar te bring.
    3.10 Fondse in te samel om die doelstellings te bereik.
    3.11 Die bedrywighede van die Klub sal geheel en al slegs daarop gemik wees om die doelwitte te bevorder.
  4. Samewerking en affiliasie met ander organisasies:
    4.1 Hulp, in die vorm van advies en morele bystand, maar nie geldelike ondersteuning nie, kan aan organisasies, met oogmerke wat aansluit by die van die Klub, verleen word.
    4.2 Enige vorm van samewerking en/of affiliasie kan slegs oorweeg word indien die naam en beginsels van die Klub, soos vervat in Artikel 1 en 2 van hierdie grondwet, sowel as sy apolitiese karakter, nie gekompromitteer word nie.
  5. Lidmaatskap:
    5.1 Geen kategorie van lidmaatskap is aan ‘n ander persoon oordraagbaar nie.
    5.2 Elke lid sal ‘n agenda, ‘n notule van die vorige Algemene Jaarvergadering (AJV) en ‘n finansiële staat een-en-twintig (21) dae voor ‘n AJV ontvang.
    5.3 Daar sal drie kategorieë van lidmaatskap wees:
    5.3.1 Gewone lidmaatskap:
    Aansoek om lidmaatskap moet skriftelik aan die komitee gerig word vir goedkeuring.
    In die geval van ‘n onsuksesvolle aansoek, hoef geen rede verskaf te word nie. ‘n Gewone lid is geregtig op alle voordele en fasiliteite wat die Klub bied en hy/sy kan een stem uitbring op vergaderings. ‘n Persoon se toetrede tot die Klub is onderhewig aan die vooruitbetaling van jaarlikse ledegeld. Voorsiening word gemaak vir ‘n spesiale ledegeld-tarief vir gesinne en groepe persone, bv. skole. Slegs die senior lid hoef aansoek om lidmaatskap te doen en die voorregte van so ‘n gesin, of groep, sal dieselfde as die van ‘n gewone lid wees, met die uitsondering dat slegs die genomineerde lid mag deelneem aan bespekings en beslissings op vergaderings, waar hy/sy op een stem geregtig is. Die spesiale ledegeld tarief vir gesinne en groepe beloop 150% (een honderd-en-vyftig persent) van die vir gewone lede.
    5.3.2 Erelidmaatskap:
    Die komitee, of ‘n gewone lid, kan voorstel dat enige persoon wat ‘n besondere bydrae tot TBM gelewer het, of spesiale diens aan die Klub gelewer het, deur die doelstellings aktief te bevorder, tot erelid benoem word. Die voorstel, wat op skrif moet wees en ‘n volledige uiteensetting van die persoon se bydrae moet bevat, moet aan die sekretaris gestuur word vir voorlegging aan die komitee. Die komitee sal die finale beslissing hê. ‘n Erelid sal:
    5.3.2.1 Alle voorregte van ‘n gewone lid geniet.
    5.3.2.2 Vrygestel wees van jaarlikse ledegeld.
    5.3.2.3 By ‘n gepaste geleentheid ‘n oorkonde ontvang.
    5.3.2.4 Hom/haarself onderwerp aan dissiplinêre maatreëls volgens Artikel 12.
    5.3.3 Spesiale lidmaatskap:
    Enige organisasie, persoon of groep persone, wat voldoen aan dieselfde vereistes hierbo gestel vir erelidmaatskap, kwalifiseer om benoem te word vir spesiale lidmaatskap. Die prosedure vir goedkeuring is dieselfde as vir erelidmaatskap. Die voordele van ‘n spesiale lid sal beperk wees tot ‘n oorkonde wat aan die hoof van die organisasie of groep aan wie die toekenning gemaak word, oorhandig word.
  6. Bestuur:
    6.1 Die beheer en bestuur van die Klub sal gesetel wees in ‘n komitee wat soos volg saamgestel is: Voorsitter, Onder-voorsitter, Sekretaris, Penningmeester, vier (4) addisionele lede en die Voorsitters van TBK takke.
    6.2 Die voorsitter en komiteelede (uitgesonder die voorsitters van TBK-takke) sal tydens ‘n AJV of ‘n Spesiale vergadering aangewys word.
    6.3 ‘n Onder-voorsitter, sekretaris en penningmeester sal deur die komitee self uit verkose lede aangewys word.
    6.4 Komiteelede word vir ‘n termyn van een (1) jaar gekies.
    6.5 Voorsitters van TBK-takke sal outomaties sitting op die komitee hê.
    6.6 Die plig van die komitee is om die Klub te beheer en te bestuur in ‘n gees wat die doelstellings, soos in Artikel 2 vervat, verwesenlik.
    6.7 Die komitee het die reg om ‘n persoon/persone te ko-opteer om ‘n vakature wat mag ontstaan, te vul, of om vir ‘n vooraf bepaalde periode ‘n spesifieke taak te verrig. In geen geval egter sal die persoon/persone langer diens doen as die ampstermyn van die volle komitee nie. So ‘n persoon/persone sal stemreg op vergaderings hê.
    6.8 Vyf (5) lede sal tydens alle vergaderings ‘n kworum vorm.
    6.9 Beslissing sal by wyse van ‘n stemming geskied en in die geval van ‘n gelykop verdeling, sal die voorsitter, naas sy gewone stem, ook ‘n beslissende stem hê.
    6.10 Die komitee kan sub-komitees, saamgestel uit komiteelede, aanwys om ‘n spesifieke taak/take te verrig.
    6.11 Aangaande Klubverwante aangeleenthede wat as sensitief, kontroversieel of as Klubbeleid vertolk kan word : Geen komiteelid sal onder enige omstandigheid namens die Klub ‘n mening in die openbaar uitspreek sonder dat die aangeleentheid op ‘n komiteevergadering uitgeklaar is nie.
    6.12 Slegs die komitee sal geregtig wees om kontrakte namens die Klub te sluit en goed te keur.
    6.13 Slegs TBK-lede, wat nie lid is van ‘n soortgelyke organisasie, waarvan die doelstellings onversoenbaar is met dié van die TBK, of as mededingend beskou kan word, is verkiesbaar vir die bestuur van die TBK of enige TBK-tak.
    6.14 Pligte van ampsdraers:
    6.14.1 Voorsitter: Hy sal die leiding neem by alle vergaderings en finale beheer oor finansies van die Klub, asook oor die pligte van die sekretaris uitoefen. Hy alleen is by magte om verklarings aan die media uit te reik. Hy sal saam met die sekretaris ‘n agenda vir elke vergadering opstel. Hy is by magte om komitee vergaderings van TBK-takke by te woon, maar beskik nie oor stemreg nie.
    6.14.2 Onder-voorsitter: Indien die voorsitter nie beskikbaar is nie, sal die onder-voorsitter in sy plek optree, in welke geval hy alle funskies en magte van die voorsitter waarneem.
    6.14.3 Sekretaris: Hy sal behoorlik kennis gee en ‘n agenda van vergaderings aan alle belanghebbendes verskaf. Hy sal notules van alle vergaderings byhou en toesien dat dit aan belanghebbendes versprei word. Hy sal ‘n volledige lys van alle lede byhou. Hy sal alle korrespondensie waarneem.
    6.14.4 Penningmeester: Hy is verantwoordelik vir die byhou van alle finansiële rekords en moet te alle tye volledig verslag kan lewer van alle Klubgelde wat deur hom en/of persone met gedelegeerde magte hanteer word. Hy sal jaarliks ‘n ge-ouditeerde finansiële verslag aan ‘n AJV voor vir insae en goedkeuring. Hy sal jaarliks ‘n geouditeerde finansiële verslag aan die Ontvanger van Inkomste te Pretoria of Bloemfontein stuur.
    6.14.5 Komiteelede: Alle lede is verplig om, indien dit nie strydig met die grondwet is nie, ‘n opdrag van die komitee uit te voer.
  7. Finansies:
    7.1 Die Klub sal by ‘n erkende handelsbank ‘n rekening open vir die hantering van alle klubfondse.
    7.2 Slegs die penningmeester en twee komiteelede, soos deur die komitee aangewys, sal tekenmagte hê.
    7.3 Alle uitbetalings sal per tjek, wat onderteken is deur twee gemagtigde ampsdraers, geskied.
    7.4 Alle gelde, wat ampsdraeers namens die Klub insamel/hanteer, sal in die rekening inbetaal word en volledige besonderhede van die transaksies moet aan die penningmeester verskaf word.
    7.5 Fondse wat namens die TBK-takke in trust gehou word, sowel as fondse wat vir ‘n spesiale doel ingesamel word, kan met die instemming van die komitee, in aparte spaarrekenings by die bogenoemde handelsbank belê word.
    7.6 Die finansiële jaar sal strek van 01 April tot 31 Maart van die daarop volgende jaar.
  8. Beleggings/Winste:
    8.1 Fondse beskikbaar vir belegging, mag slegs belê word by geregistreerde finansiële instellings, soos omskryf in Artilel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Beleggings van Fondse) 1984 en in aandele wat op ‘n gelisensieerde effektebeurs, soos in die Wet op Beheer van Effektebeurse 1985 (Wet no. 1 van 1985) omskryf, genoteer is.
    8.2 Geen winste mag aan enige persoon uitgekeer word nie. Fondse mag slegs vir belegging of om die oogmerke waarvoor die Klub ingestel is, te verwesenlik, gebruik word.
    8.3 Die Tradisionele Boeremusiekklub mag geen handelsbedrywighede, ander bedrywighede met wins oogmerk, beoefen nie, of deelneem aan enige besigheids-, professionele- of beroepsbedrywighede van enige van sy lede of enige van sy lede voorsien van geldelike hulp, perseel, aanhoudende dienste of fasiliteite wat deur sy lede benodig is, vir beoefening van besigheid, professie of beroep.
  9. Ledegeld:
    9.1 Ledegeld is jaarliks vooruit betaalbaar op die lid se datum van toetrede tot die Klub.
    9.2 ‘n Lid wat versuim om binne ses (6) maande vanaf die vervaldatum sy ledegeld te betaal, sal sy lidmaatskap outomaties verbeur.
    9.3 Lidmaaskapfooie sal deur die komitee vasgestel word en op ‘n AJV of SV aan die lede vir goedkeuring voorgelê word.
  10. Vergaderings:
    10.1 Komiteevergaderings: Sal minstens vier keer per jaar gehou word en elke lid sal minstens een-en-twintig (21) dae voor die tyd ‘n kennisgewing en agenda ontvang.
    10.2 Algemene Jaarvergadering (AJV):
    10.2.1 ‘n AJV sal elke jaar gedurende September gehou word en lede sal ten minste een-en-twintig (21) dae voor die tyd ‘n kennisgewing en agenda ontvang.
    10.2.2 Die teenwoordige ingeskrewe lede vorm ‘n kworum.
    10.2.3 Lede kan die sekretaris minstens ses (6) weke voor ‘n AJV skriftelik versoek om ‘n besprekingspunt op die agenda te plaas.
    10.2.4 Die agenda moet ‘n item “Algemeen” bevat om aan lede ‘n geleentheid vir bespreking te bied.
    10.3 Spesiale vergadering (SV):
    10.3.1 ‘n SV kan op besluit van die komitee of op skriftelike versoek van minstens twintig (20) ingeskrewe lede belê word.
    10.3.2 Die komitee mag nie ‘n versoek om ‘n SV te belê weier nie en die nodige reëlings vir ‘n SV moet binne een-en-twintig (21) dae na ontvangs van ‘n versoek, getref word.
    10.3.3 Een-en-twintig (21) dae kennis van ‘n SV, sowel as die rede daarvoor, sal skriftelik aan alle lede gegee word.
    10.3.4 Slegs die aangeleentheid(e) waarvoor ‘n SV belê is, mag bespreek word.
    10.3.5 Tien persent (10%) van alle lede sal ‘n kworum vorm.
    10.4 Buitengewone vergadering:
    10.4.1 ‘n Buitengewone vergadering kan slegs deur die komitee belê word om die verskanste artikels 1,2,4,10.4 en 11 van hierdie grondwet te wysig.
    10.4.2 Een-en-twitig (21) dae kennis van die vergadering sal aan alle lede gegee word en hulle sal volledige uiteensetting van die voorgestelde wysiging(s) ontvang
    10.4.3 Sestig persent (60%) van alle ingeskrewe lede sal ‘n kworum vorm.
    10.4.4 Die voorgestelde wysiging(s) kan slegs aanvaar word indien ten minste negentig persent (90%) van die aanwesige lede ten gunste daarvan stem.
  11. Grondwet:
    11.1 Enige wysiging aan die grondwet kan slegs onder die volgende voorwaardes plaasvind:
    11.1.1 Met die uitsondering van artikels 1,2,4,10.4 en 11 van hierdie grondwet, kan alle ander artikels gewysig word op ‘n SV wat vir die doel belê is.
    11.1.2 Alle lede sal volledige inligting ontvang oor die voorgestelde wysiging(s).
    11.1.3 Die wysiging(s) sal aanvaar word slegs indien vyf-en-sewentig persent (75%) van die aanwesige lede ten gunste daarvan stem.
    11.1.4 In die geval van artikels 1,2,4,10.4 en 11, wat die naam, doelstellings en karakter van die Klub omskryf en as onvervreembaar beskou word, kan enige wysiging slegs op ‘n buitengewone vergadering, soos in artikel 10.4 bepaal, geskied.
    11.1.5 Met elke wysiging van die grondwet, sal ‘n kopie van die nuwe weergawe aan die Kommissaris van Binnelandse Inkomste, Posbus 402, Pretoria 0001 voorgelê word.
  12. Dissiplinêre maatreël:
    12.1 Enige gewone, ere- of spesiale lid, wat deur sy handelinge en/of uitlatings die doelstellings en/of naam van die Klub skend, of indien sy/haar voortgesette lidmaatskap nie in belang van die Klub is nie, kan deur die komitee van sy lidmaatskap ontneem word.
    12.2 Die komitee kan versoek dat die betrokke lid ‘n skriftelike verduideliking oor die aangeleentheid indien voordat ‘n beslissing gemaak word.
  13. Takke:
    13.1 Indien daar ‘n behoefte ontstaan, kan lede wat in ‘n spesifieke gebied woonagtig is, by die komitee aansoek doen om ‘n takke te stig.
    13.2 Goedkeuring sal verleen word, onderworpe daaraan dat die grondwet van die betrokke tak deur die komitee goedgekeur word en nie enigsins met hierdie grondwet bots nie.
  14. Ontbinding van die Klub:
    14.1 Die Klub sal as ontbind beskou word indien die aantal ingeskrewe gewone lede minder as tien persone bestaan, of indien ‘n besluit tot dien effekte deur ‘n meerderheid van vyf-en-sewentig persent (75%) van teenwoordige lede tydens ‘n AJV of SV daartoe besluit.
    14.2 By ontbinding van die Klub sal alle skulde eers vereffen word, voordat die restant van die bates oorgedra word aan ‘n ander vereniging of organisasie met oogmerke soortgelyk aan die van die Klub.
  15. Regspersoonlikheid:
    15.1 Die Klub kan regte en verpligtinge aangaan en kan in sy naam regsgeding(e) instel of verdedig.