Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika

DIE TRADISIONELE BOEREMUSIEKKLUB VAN SUID-AFRIKA

Jan Mans

Johannes Marthinus Mans, gebore 25 Julie 1935 op die Plaas Rietvlei Meyers in die distrik van Groot Marico. Sy pa was oom Pieta en sy ma tannie Ella Petronella Gertuida, ‘n nooi van Wyk van die omgewing.  Uit hierdie huwelik is daar 7 seuns en 6 dogters gebore.  Oom Pieta was ‘n transportryer van die omgewing en het onder andere met sy donkiewa brandhout na die delwerye toe gery.  So het oom Jan self geleer van ‘n donkiewa en van die stofpaaie en van transport ry.  Oom Jan bring dan hulde aan die plaas waar hy gebore is en grootgeword het met die Rietvlei Meyers wals, dan speel hy vir oom Pieta, Pieta se seties en vir die tante, Tant Ella se Wals. Maar oom  Jan het ook nie die donkies vergeet nie, die Langoor Polka is dan volgende, en oom Jan het ook besluit om die Stofpad seties te komponeer.

Sy skooldae het oom Jan deurgebring in die Laerskool by die Rietvlei Meyers plaasskool, en die hoërskool was by die Marico se hoërskool.  Ná skool het oom Jan gaan aansluit by oom Ben Wieletjies se onderneming, die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, en hier het hy as lid van die Voetplaat Personeel begin werk as stoker, later homself opgewerk en bekwaam as ‘n treindrywer.

Oom Jan het grootgeword in die tye toe konsertinaklanke volop was, mampoer ook, en die lewensmiddele het afgehang van wat die houtwa ingebring het, aag lekker my ding!  Oom Jan het ook gedink aan die houtwa, want hy speel die Houtwa Seties.

Oom Jan vertel dat hy maar baie kere met die oë gesteel het wanneer sy pa gaan musiek maak het.  Die oom het gewoonlik sy konsertina in ‘n kussingsloop agterop die fiets se drarakkie vasgemaak as hulle gaan musiek maak.  Oom Jan sê dan het hulle partykeer so skelm “gefietfod” met die konsertina.

In 1954 toe oom Jan weermag toe is, was daar ‘n man wat vir hom uit Engeland uit ‘n 3 ¾ ry Wheatstone bestel het, maar hy kon nie hierdie ding baasraak nie, en hy vra vir oom Jan of hy sal belangstel.  Oom Jan koop toe hierdie konsertina vir 10 pond, maar dié konsertina het nie ‘n kassie gehad nie.  ‘n Entjie later gaan hy na ‘n partytjie toe en daar is ‘n ander orkes wat speel.  Die aand toe hulle klaar gespeel het, toe die konsertinaspeler by sy kassie kom, toe is die konsertina uit die kassie uit gesteel en hy is weg.  Oom Jan koop toe hierdie leë kassie vir 2 pond, want sien, die een se dood is mos die ander se brood.  Oom Jan het toe nou alles gehad wat hy nodig het.  Binne in hierdie kassie was daar ‘n rooi flennie lappie, en tot vandag toe sê oom Jan is dit sy konsertina se kombersie.

Op die 7de Januarie 1956 is oom Jan getroud met tannie Sarie Louwrens. Hulle het mekaar ontmoet in Zeerust.  Die tannie het daar in die Standard Bank gewerk. Sy was ook maar van die omgewing gewees, en uit hierdie huwelik is 3 kinders gebore, Pieter, Riana en André.  Oom Jan het my eendag vertel dat Riana klavierlesse gehad het en dat sy ook eksamens afgelê het vir die klavierwerk.  Oom Jan het ook vir tannie Sarie vereer met ‘n nommertjie, Sarie se Vastrap.

In 1963 het oom Jan Vaaldriehoek toe gekom en by USCO in Vereeniging begin werk, waar hy vir 28 jaar gewerk het, en toe met pensioen gegaan het.  Lettie en ek het van hom gehoor toe ons radioprogramme op Triomf Radio gedoen het, en Pieter, sy seun, vir ons vertel het sy pa speel ook konsertina.  Tydens een van ons karavaannaweke op Parys het Lourens van Zyl oom Jan kom voorstel en het hy gevra of oom Jan ‘n paar nommers kan speel.  Daar het die moeilikheid toe begin.  Oom Jan het by die Musiekmakers kom aansluit en ons het die land vol gespeel.  Oom Jan het ook vir ek en Lettie vereer met Peet en Lettie se Wals.

Oom Jan het so op sy pad ook andere vereer met komposisies – Willie se Setees wat hy gemaak het vir Willie Badenhorst, kitaarspeler.  Dan het hy vir Lettie van Staden ook ‘n Setees geskrywe, dis nou skoonpa se dogter, en Magriet se Rooimiere Setees het gebeur een aand op Meyerton toe ons daar gaan musiek maak het.  Die kinders het buitekant gespeel en Magriet was tussen-in.  Sy het haar trui uitgetrek en op die gras neergesit. Later die aand het sy hom aangetrek toe dit ons beurt was om speel.  So ‘n entjie in die beurt in hoor ons net so ‘n paar benoude gille en daar trek Margaretha, jy sien net klere waai en sy is daar om die hoek in die donkerte in.  Toe het sy haar trui op ‘n rooimiernes neergesit. Dan is daar Rita se wals. Ben van Rensburg se vrou Rita, het altyd met die karavaannaweek se konsert vir ons opvoerinkies gemaak.  So het sy en oom Jan Vosloo ook saam gewerk, en toe sê sy een aand vir oom Jan, nou maar skryf maar my ietsie ook, toe maak oom Jan Mans Vir Rita se wals.

In 2001 het ons die eerste laserskyf met opnames van oom Jan, ook op die laserskyf, die Musiekmakers maak Huismusiek, 15 verskillende ander kunstenaars.  Daarna het ‘n tweede laserskyf uitgekom, op dieselfde manier gemaak – Later al Kwater.  En toe het ons ‘n derde laserskyf opgeneem van die Drie Ooms – dit was oom Jan Mans, oom Hendrik van Rensburg en oom Jan Vosloo.

Dominie Muller het in Pretoria saam met die TBK tak al daar ‘n klomp musikante genooi om vir ‘n dag daar te kom musiek maak.  Daar was verskillende konsertinaspelers, en hulle het die konsertinaspelers begelei.  Daar het hulle van oom Jan ‘n laserskyf gemaak – Marico Musiek.  Dan, op ‘n video wat ons geneem het tydens ‘n dagfunksie in Vanderbijlpark, het ons opnames gemaak wat ons omskep het in ‘n video, en oom Jan en die Musiekmakers het ook daar gespeel asook verskeie ander orkeste.

Oom Jan het ook ‘n toekenning ontvang by Sharky Town in Vanderbijlpark vir sy bereidwilligheid om Boeremusiek te bevorder.  Dis lekker as ‘n mens oor iemand gesels wie jy ken.

Nadat die Musiekmakers-orkes platgeval het, het van die musikante van dié orkes gehergroepeer en die Outydse Klanke Orkes gevorm.  Die Outydse Klanke Orkes met oom Jan as konsertinaspeler het twee laserskywe deur die TBK laat opneem.  Die eerste een se naam is Boerekonsert, en die tweede en laaste een wat oom Jan opgeneem het, was Oud maar nog nie koud.  

As u sou belangstel om enige van die musiek te kry wat ons hier genoem het, kan u vir Aletta Dorfling skakel – 0824825332.

Hierdie was ‘n huldeblyk aan oom Jan Mans, wat oorlede is einde Januarie 2021 weens Covid.  Ons harte gaan uit, en die simpatie is groot teenoor sy kinders, sy familie en sy vriende.  Ons het ‘n groot musikant verloor, maar dankie tog, sy musiek sal voortleef met al die opnames en herinneringe wat hy gelos het.  Ons dink ook aan sy vriendin Grace, wat ook  Covid opgedoen het.  Ook sterkte vir haar en haar mense.

Hierdie huldeblyk sal ook nie volledig wees as ek ook nie van oom Jan se pa musiek noem nie.  Toe hulle een aand by hulle huis partytjie gehou het, het ‘n bandjie op ‘n radio van hulle musiek opgeneem en hulle het dit oorgesit op ‘n laserskyf.  Een liedjie is John Brown se donkie, wat vandag nog gespeel word, en wat ontstaan het in die Amerikaanse Burgeroorlog, en dan een van oom Piet Mans se eie komposisies, Piet Mans se wals.

~Peet van Staden

Leave a Comment