Danie Labuschagne


Daniël Sarel (Danie) Labuschagne is op 27 Mei 1937, in Thabazimbi se wêreld gebore en het daar in die Bosveld groot geword. Hy was nog baie jonk, pas klaar met sy skoolopleiding, toe hy na Pretoria verhuis het waar hy hom as ‘n kabinetmaker bekwaam het. Hy was ‘n man wat hard kon werk en van geen brouery of afskeepwerk gehou het nie. Oom Danie was van kleins af hartstogtelik lief vir boeremusiek waarmee hy dan ook grootgeword het. Hy het gelukkig van jongs af begin om boeremusiekplate te versamel.

In 1981, pas na aansluiting by die Konsertinaklub van Suid-Afrika, het oom Danie Labuschagne vir my ‘n stapel kassette gegee met die woorde “Dis belangrik dat jy hierdie musiek het”. Dit was opnames van sy persoonlike versameling 78-spoed plate deur die groot meesters van weleer. Hy het potensiaal raakgesien en in ‘n hoërskoolkind die gevoel van waardering vir tradisionele boeremusiek laat wortel skiet.

vlnr Stephaan van Zyl, Jimmy Henning, Danie Labuschagne tydens die onthulling van Faan Harris se Grafsteen, 3 April 1982
(Foto kopiereg Sean Minnie)
vlnr Danie Labuschagne, Edward Labuschagne, Danie Grey, Laurie du Preez, Arrie Oberholzer, Stephaan van Zyl tydens die onthulling van Faan Harris se Grafsteen, 3 April 1982 (Foto kopiereg Sean Minnie)

Oom Danie is deur die Klub gekoöpteer om al die ou plate te hermeester en sodoende vir die nageslag te bewaar. Duisende kilometers is afgelê om plate en opnames te bekom; duisende telefoonoproepe is gemaak om inligting en besonderhede van kunstenaars in die hande te kry; duisende ure van sy vrye tyd is opgeoffer om ou plate op pragtige nuwe langspeelplate oor te plaas en baie van sy verlof is aan die aktiwiteite van ons Klub gewy. Hy verdien net lof vir sy onbaatsugtige bydrae om tradisionele boeremusiek te bewaar en te sorg dat dit nooit sal uitsterf nie!

Sy huis was ‘n bymekaarkomplek vir boeremusiekliefhebbers en -musikante. ‘n Mens het dadelik tuis gevoel tussen die musiek en vriendelike mense. Vandag besef ek wat ‘n voorreg dit was om daar aan die voete van groot meesters soos Piet Bester en Hannes Viljoen te kon boeremusiek aanleer terwyl hulle net gekuier of vir opnames geoefen het.

vlnr Hannes Viljoen met Danie Labuschagne ten tye van die vrystelling van sy langspeel plaat ~1984
(Foto kopiereg Sean Minnie)

Oom Danie was later deur Stephaan van Zyl aangehits om ook die tjello te bemeester en so word hy die tjellospeler van die Oudag Boere-orkes. Sy besonderse styl laat ‘n mens onwillekeurig aan die Vier Transvalers dink.

Sy toewyding het in 2004 ‘n nuwe rigting ingeslaan. Na die voorraad boerekonsertinas vanuit Oos-Duitsland opgedroog het, is hy deur Stephaan van Zyl omgepraat om eiehandig te begin instrumente bou. Sedertdien is ongeveer 500 “BOER” konsertinas van hoogstaande gehalte vervaardig. Hulle gewildheid onder musikante het verseker dat daardie besonderse aspek van boeremusiek ook in ons tradisie sal bly voortbestaan.

Danie Labuschagne met een van die prototipe BOER konsertinas in 2004
(Foto kopiereg Sean Minnie)

Oom Danie is op 19 Julie 2021 oorlede. Hy het sy lewe gewy aan ons kultuur musiek en ons nageslag sê by voorbaat baie, baie dankie vir hierdie bydrae. Ons volk groet sonder woorde…. want hartseer is stom.

~Sean Minnie

Have any Question or Comment?

Leave a Reply

Filters