Amanda Stander Blom, is gebore in Barberton en was die middelste sussie van drie susters. Sy was in Barberton, Belfast en Middelburg onder andere op skool. Na haar skool loopbaan het sy as Data Tikster begin werk maar haarself vinnig begin opwerk en verskeie diplomas gedoen tot sy Weblad adminstrateur by Sita was. Met haar werk het sy ook die land vol gereis.
Sy is op 4 Julie 1981 getroud met Nico Blom, wat ‘n begaafte en bekende musikant was. Hy was lid van die SAPS junior-boereorkes en Dansorkes, asook die Extremes orkes.
Ek durf dit stel dat dit nie almal beskore is, of die moed het, om ‘n lewe saam ‘n boeremusikant te kan bou nie. Dit verg baie opoffering ‘n balans tussen musiek en dan die lewe buite musiek te kan handhaaf. Hierdie besonderse paartjie het as voorbeeld vir baie gedien deur hoe gelukkig en ondersteunend hulle was teenoor mekaar tot die bitter einde toe. Amanda was net oor ‘n dekade terug in ‘n traumatiese motorfiets ongeluk, wat haar voorkoms, reuk, sig & smaak gekos het. Sy was totaal blind na die ongeluk en Nico het deur dik en dun by “sy blinddate” gestaan. Mense wat die voorreg gehad het om met hulle te gesels, sou tussen staaltjies deur gehoor het hoe die twee al deur moeilike tye saam moes bestuur. Daar was ‘n tyd wat Nico ‘n besering aan sy hand deur ‘n saag met die bou van ‘n konsertina opgedoen het. Amanda het ratte verander en Nico het die pedale hanteer. Vir ses weke het hulle so van punt A na punt B saam-saam gewerk. Amanda was ook deel van die TBK se hoofbestuurspan sedert 2019 en was betrokke om die webblad navrae te hanteer
Ek onthou hoe ek altyd na haar gekyk het as sy deur hulle huis beweeg met haar donker bril op en Sophie, haar gidshond, aan haar sy. Sonder enige moeite en as dit lyk of sy gaan struikel, voor iemand kan help of hand bysit, trek sy doer al in die kombuis of in haar studeerkamer waar sy op haar rekenaar boeke lees en haarself besig hou met ander take en sake. Dit was ‘n eer en voorreg om saam met hulle baie te kon kuier, musiek te maak en ook onder Amanda se vlerk geneem te word met hulp rondom my studies. Sy was die gaafste en mees inspirerendste mens ooit wat jy sou kon ontmoet. Die grappies rondom haar blindheid was altyd iets om oor saam te lag, veral as Nico op ‘n ernstige oomblik met een lostrek.
Amanda jy was ‘n droom vrou en beminde vir Nico, ‘n inspirasie, vriendin, moeder, ouma en soveel meer vir baie mense wie jy aangeraak het. Amanda, nou is jy en Nico saam vir altyd. Ek sien in my geestesoog hoe Koekoes, soos jy hom genoem het, trane van blydskap huil oor jy weer kan sien en in sy oë kyk. Ek sien hoe wals julle daar soos altyd by die TBK funksies en hoe lekker vastrap julle op jou gunsteling boere nommer genaamd die ‘Nooientjie vastrap’. Bokkie, ons gaan jou mis. Julle sal altyd vir ons as ‘Bokkie en Koekoes’, Amanda en Nico, of die Blomme by bly. Rus in vrede waar julle nou is. Dankie vir al die wonderlike jare en tye saam ons almal, tot ons mekaar weer sien eendag.
~Ilza Strydom