Die Vier Transvalers

Die oorspronklike Vier Transvalers kan beslis beskou word as een van die beste en gewildste orkeste wat ooit Boeremusiek opgeneem het. Die konsertinaklanke van Faan Harris en sy manne bly na al die jare van die gewildste en mooiste in ons land. Letterlik honderde orkeste het al hul wysies nagespeel, maar geeneen kan dieselfde gevoelvolle uitvoerings optower soos die Vier Transvalers nie. Alhoewel Faan verskillende instrumente kon speel, was hy by uitstek ‘n baie goeie en gewilde konsertinaspeler en het tydens al die plaatopnames dan ook die konsertina bespeel. Hy was die leier van hierdie groep.

Die Vier Transvalers het uit die volgende spelers bestaan:

Stephen Emil (Faan) Harris (leier) : Konsertina
Josephus Daniël (Sewes) van Rensburg: Kitaar
Frans Hendrik (Frans) Ebersohn: Kitaar
Hendry Frederick (Bossie) Bosman: Tjello
Die Vier Transvalers

Kenmerkend van hulle musiek is die strelende klanke van die konsertina, skitterend begelei deur die volryk suiwer klanke van die kitare en tjello. Die besondere klank van Faan se orkes is op ‘n unieke wyse verkry. Die kitare is op verskillende toonhoogtes ingestem wat pragtig met die tjello saamgevloei het om daardie kenmerkende singende agtergrond daar te stel. Die instrumente vorm ‘n klankryke eenheid en bring die pragtige wysies en eenvoudige melodieë pragtig na vore! Daardie tjello is aan Danie Labuschagne geskenk. Dit was in ‘n swak toestand maar hy het dit wonderbaarlik restoreer en ten toon gestel op Pietersburg tydens die onthulling van die Boereorkes in brons.

Vir hul eerste opname het hulle by Sewes van Rensburg se huis geoefen. Hy het die lei-kitaar gespeel tydens al hul opnames. Faan het ‘n klein Lachenal Drie-ry hoë-toon konsertina bespeel. Op sommige geleenthede het nog twee musikante vir die orkes gespeel, maar nooit tydens hul opnames nie. Piet Bosman het soms op die kitaar saamgetokkel, terwyl ene Steenberg saam gespeel het op sy tuisgemaakte bas-instrument. Dis uit ‘n teekas en ‘n besemstok vervaardig met net een snaar wat stywer en slapper
getrek is om die verlangde toonhoogte te verkry. Die klanke wat hierdie instrument voortgebring het, was baie eg en effektief.

Die Vier Transvalers het hierdie tien plaatopnames by His Master’s Voice op 3 en 10 Oktober 1932 gemaak:

Soutpansberg se polka
Soutpansberg se settees
His Master’s Voice GX 5
Wals van Tant Sannie
Rooidag-toe polka
His Master’s Voice GX 6
Hartseer wals
Plattoon polka
His Master’s Voice GX 10
Eileen Alannah-wals
Moenie, Oom Kool-settees
His Master’s Voice GX 16
Kromdraai-Mazurka
Anna Pop-settees
His Master’s Voice GX 23
Hier jy-polka
Ek is Mama se kind-wals
His Master’s Voice GX 28
Laat my lekker kry-settees
Laat my los-polka
His Master’s Voice GX 35
Lief Fransie-wals
Warmpampoen-settees
His Master’s Voice GX 42
Transvaalse wals
Mienie in die mielieland-polka
His Master’s Voice GX 48
Hartlam-wals
Neef Frans se polka
His Master’s Voice GX 54

Faan was lief daarvoor om hul nommers met ‘n uitroep van “Eina!” af te sluit, natuurlik om sy lekkerkry uit te druk! Op hul oorspronklike opname van Neef Frans se Polka word die uitroep “Julle kry lekker né!” gehoor. Dit is Frans Ebersohn wat op die geleentheid so lekker raas.

In 1936 het die orkes ‘n tweede prys verower tydens ‘n reuse boeremusiekkompetisie by die Wembly Stadion in Johannesburg. Die legendariese orkes van Hendrik Susan het tussen die 22 orkeste met die louere weggestap. In 1937 het Die Vier Transvalers vir hulle tweede opnamesessie by Frans Ebersohn se huis geoefen. Dié plate is ongelukkig nooit in Suid-Afrika vrygestel nie. Hierna het die orkes so te sê van die toneel af verdwyn en elkeen het sy eie musiek padjie gevolg.

In die laat Sestigerjare is Die Vier Transvalers aangewys as die beste Boereorkes ooit deur die luisteraars van die radioprogram Konsertina-Klub. Dié program, aangebied deur wyle Dr. Hans le Grange, het terselfdertyd Die Hartseer Wals aangewys as die mooiste boeremusiekliedjie.

Gedurende 1979-80 is die musiek van Die Vier Transvalers sonder uitsondering eerste geplaas deur die talle luisteraars van Lourens Aucamp se radioprogram, Toeka se treffers. Die kategorieë waarin hulle eerste geplaas was sluit in die mooiste wals, settees en polka. Verder is hul Lief Fransie Wals aangewys as die algehele wenner in Boeremusiek, terwyl Faan Harris die eer as beste konsertinaspeler ontvang het. Dat dié orkes se Boeremusiek uniek en pragtig is, is geen twyfel nie. Terloops, hierdie program “Toeka se treffers” was uiters gewild en meer as 35 000 mense het aan Lourens geskryf in verband met die kompetisie en ook om dankie te sê vir die baie interessante praatjies oor ons boeremusiek.

Selfs wyle Dr. Anton Hartman het gesê dat hul Soutpansberg se Settees iets uniek in ons tradisionele musiek is, en dat dit feitlik onmoontlik is om die musieklyne daarvan neer te skryf, en dat selfs ‘n simfonie orkes dit nooit soos Die Vier Transvalers sou kon uitvoer nie. Wat ‘n reuse kompliment deur een van ons land se groot reuse.

Van die orkes se komposisies het op interessante wyses hul oorsprong gehad. Twee snitte, Zoutpansberg se settees en Zoutpansberg se Polka het vermoedelik hul ontstaan gehad tydens Faan en ‘n vriend, Bok Hamman, se reis deur Noord-Transvaal. Snags het hulle in ‘n tuisgemaakte tent geslaap, en dit met die pragtige Soutpansberge om hulle. Genoeg om Faan se komponeertalente wakker te kon maak! Die Hartseer Wals is volgens Jimmy Henning, ‘n goeie kennis en vriend van Faan Harris, deur Faan gekomponeer as gevolg van ‘n droom wat hy gehad het. Die Eileen Alannah is ‘n Skotse wysie op die maat van ‘n wals, terwyl Neef Frans se Polka vernoem is na hul kitaarspeler Frans Ebersohn. Die Wals van Tant Sannie het hy na ‘n tante van hom vernoem. Hierdie wals is natuurlik ook bekend as die Shannon wals.

Die Vier Transvalers se musiek was en is nog steeds gewild en byna elke konsertinaspeler speel vandag nog hierdie wysies.