Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika

DIE TRADISIONELE BOEREMUSIEKKLUB VAN SUID-AFRIKA

Hannes Viljoen

(Johannes Jacobus Viljoen)
1918-09-27 – 1998-02-06

Hannes is op 27 September 1918, in die distrik Krugersdorp gebore. Hy is ‘n baie joviale mens en altyd vol grappies. Hannes en sy broers is almal baie musikaal. Sy moeder, Meinie, het pragtig traporrel gespeel en het haar seuns dikwels daarop begelei. Dit was ‘n buitengewone groot traporrel wat in Amerika vervaardig is. Na haar afsterwe het dr Hans la Grange dit gekoop vir sy versameling. Hannes vertel dat sy moeder heelwat op die orreltjie gekomponeer het. Hannes het in 1943 begin om konsertinas te herstel en het later eiehandig die blaasbalk daarvan gemaak! In 1972 het hy patentregte uitgeneem op ‘n tuisgemaakte konsertina en sedertdien het hy al ongeveer vyf en twintig konsertinas eiehandig gebou. Hy is met ‘n bogemiddelde ingenieursvernuf bedeel, want om hierdie instrument te bou, verg baie geduld, vernuf en vakmanskap. Hierdie konsertina, genoem die HAVIL, het Hannes na homself vernoem: Die HA staan vir Hannes en die VIL vir Viljoen. Sy vakmanskap is uitstaande, want spelers, wat gelukkig genoeg is om hierdie instrument te besit, verkies dit bo ander bekende fabrikate. Die bekende rooi konsertina van Nico van Rensburg is ‘n pragtige voorbeeld van sy werk. Hannes vertel dat ander spelers hom dikwels in sy jong dae gepla het. As hulle op ‘n dans gespeel het, het hulle altyd gevra om met sy konsertina te speel. As hy geweier het, was hulle kwaad. Hy het toe ‘n plan bedink en twaalf van sy konsertina se fluitjies omgeruil. Met ander woorde sy konsertina se note was nou anders gerangskik en niemand anders as Hannes kon daarmee speel nie. Sy plan het gewerk en die ander ouens het hom nooit weer gepla nie! Hannes het baie oor die radio uitgesaai en het baie langspeelplate gemaak waarvan die volgende die bekendstes is:

Konsertinawysies van die Vier Transvalers
Die nuwe Voortrekker
Dagbreek Konsertina
Rooidag-Toe
As die aandskadu’s daal
Kom Laat ons dans

Laasgenoemde is deur die SAUK opgeneem en versprei. Hannes het ook reeds meer as vyftig komposisies agter sy naam.Hier volg ‘n lysie van die bekendstes:

Witvoet-polka
Eggo-mazurka
Oom Frans se settees
Verlaat my nooit-wals
Kiewiet-draf settees
Die Kapkar settees
Wildeman wals
Die Lekker Kêrel-settees
As die Aandskadus daal-wals
Jasper se polka
Net vir jou
Konsertina Jodel
Oslaagte-settees
Die Swartberg-vastrap
Hengelaars-wals
Lief Bessie-wals
Die Branderplank-polka
Piet van Pietersburg
Sonop oor Klipfontein
Poegaai-polka
Die Ossewa-wals
Dagbreek Trippel
Moenie oom Jim
Bronkhorstbaai-settees
Die Treur-wals
Dirkie se wals
Lettie se settees
Danie se wals
Dagbreek Jol-settees
Die Rooi Roos-settees en
Lekkerbek-polka

Skrywer is natuurlik in sy noppies omdat Hannes een van sy mooiste deuntjies, Piet van Pietersburg, na hom vernoem het! Omdat Hannes ‘n pragtige eie styl ontwikkel het en nog op die tradisionele wyse speel, is sy plate baie gesog en versamelaars sukkel baie om dit in die hande te kry. Omdat Hannes konsertinas bou en herstel, is hy natuurlik baie bekend en gewild onder die ander musikante. Hulle besoek hom gedurig en dik stukke oor boeremusiek word dan daar gepraat. Hannes het baie van die ou spelers persoonlik geken en het baie agting vir Hans Bodenstein, Silver de Lange, Faan Harris, Sampie Viljoen, Joe Hooneberg, Jan Visser en hulle musiek. ‘n Paar jaar gelede is ek gevra om die teks vir een van Hannes se langspeelplate te skryf. Nadat ek die plaat gespeel het, het ek die volgende geskryf: “Toe ek die temaliedjie van hierdie pragtige langspeler hoor, was ek ongemerkteruggeplaas in my eie stilhoekie. Elke mens het mos so ‘n plekkie vir afgesonderde heerlike momente. Ek was weer onder my ou geliefkoosde bosveldboom en omring deur asemrowende konsertinaklanke. Ek het besef dat hierdie kunstenaar besig was om met my te praat … ek was gelukkig, opgewonde, so effens weemoedig en vol verlange … Die onverklaarbare mistigheid in die oog? Ek praat nie daarvan nie! “Vriende, wat doen sulke mooi tradisionele musiek aan ‘n mens? Kan al die gewaarwordinge en gevoelens wat dit in ‘n boerehart opwek, ooit beskryf word? Ek weet eerlikwaar nie. Ek glo nie. Soms kan ‘n blom, ‘n skildery, ‘n ster, ‘n eensame ou boom, ‘n eenvoudigeliedjie of ‘n sonsondergang ‘n mens se mymeringe aan die gang sit … Hannes het dit met my gedoen! “Hannes Viljoen, met sy pragtige skeppings, is vandag een van ons weinige skakels tussen ons tradisioneelryke verlede en die hede. Met sy selfgeboude meesterstuk betower hy ons en word die eggo’svan lank gelede weer in herinnering geroep. ‘n Eggo van ‘n lank vergete bruilof, die eggo van ‘n ou vriend se lag en al die ander eggo’s wat eksklusief net vir jouself bedoel is.” Hannes het reeds afgetree, maar hy bly steeds besig met konsertinas bou en herstel. Hannes, seen word jou toegewens en jou bydrae tot ons tradisionele musiek sal seker nooit genoeg waardeer kan word nie. – Piet Bester

Instrumente

No instruments found for this musikante.

Albums

No albums found for this musikante.






Hannes Viljoen tydens die algemene jaarvergadering van die Konsertinaklub van Suid-Afrika te Saamstaan Vakansie oord, 1983-11-05[Foto kopiereg Séan Minnie]





Hannes Viljoen met Piet Bester tydens die algemene jaarvergadering van die Konsertinaklub van Suid-Afrika te Saamstaan Vakansie oord, 1983-11-05 [Foto kopiereg Séan Minnie]





vlnr Johannes la Grange, Hannes Viljoen, Jimmy Henning, Piet Bester, tydens die Konsetinaklub van Suid-Afrika se byeenkoms waar die bekendstelling van die eerste heropnames van Die Vier Transvalers op langspeelplaat gedoen is ~1983.[Foto kopiereg Séan Minnie]