Karakter
Boeremusiek is dans- en singmusiek wat sedert 1652 in Suid-Afrika ontwikkel het. Musiek uit die stamlande was aanvanklik oorheersend soos die militêre orkeste dit gespeel het. Heel gou egter het die musiek ‘n eie inheemse en plattelandse karakter ontwikkel met dat die bevolking begin uitsprei het en al meer op hulle eie vermoë om musiek te maak aangewese was. Eie belewenisse en omstandighede het al meer in die sang en danse inslag gevind.
Musiekinstrumente wat maklik vervoerbaar was, het veral ‘n rol gespeel in die vestigingsjare. Viole, fluite, serfyne, verskillende snaarinstrumente en ook knoppeisakkordeons, het saam op reis gegaan die binneland in. Die vestiging in die binneland was nog nie mooi afgeloop nie toe die boerekonsertina sy verskyning gemaak en die toneel oorheers het. Die konsertinas uit Engeland, die tjello, mondfluitjie, banjo en ukulele het later bygekom. In die stede en dorpe het klaviere en traporrels ook ‘n besondere rol gespeel.
Boeremusiek is funksionele en informele musiek wat op ‘n kenmerkende manier en in ‘n besondere styl met veral die konsertina, viool en serfyn gespeel is en word. ‘n Aansienlike gedeelte van die musiek kom van die dansvloere af en wanneer dit wel gesing is, was die woorde maar skraps maar die ritme altyd sterk. Die musiek wat in die volksmond of by enkelinge ontstaan het en merendeel gesing en soms gedans is, was beter bedeeld met woorde en het in party gevalle uitdrukking gegee aan emosies en belewenisse wat nie altyd op die dansbaan gepas het nie. Gedurende die negentiende eeu het heelwat van die musiek slegs oorlewe omdat dit gesing is uit noodweer omdat daar nie musikante beskikbaar was nie. Van die begin van die twintigste eeu af het van die musiek se woorde weer op die agtergrond beland of verlore gegaan met die verstedeliking en het dit net as dansmusiek voortbestaan toe musikante geredeliker beskikbaar was.