Hoe kan Tradisionele Boeremusiek uitgebou word sonder om die karakter daarvan skade te doen?
Alleen deur dit te speel en beter te probeer speel. Daar is inderdaad baie aan die ou nommers te verbeter sonder om die karakter daarvan geweld aan te doen. Op die ou 78-spoed plate is vele voorbeelde van slordige samespel, wanballans, vals note, verkeerde akkoorde en blatante foute. As mens in gedagte hou dat die opnametegnieke van daardie dae ‘n mens een kans gegee het om die opname te maak is dit vir niemand ‘n rede om hierdie musiek te verwerp of minag nie. Ons moet dit eerder as ons plig beskou om dit te louter en te veredel sodat dit ‘n volksmusiek kan word waarop elke Afrikaner trots kan wees.
Wanneer ek sĂȘ “louter en veredel” bedoel ek beslis nie “moderniseer” nie. Ek bedoel nie ‘n mens moet die sterk vloeiende melodie, wat so kenmerkend is van baie tradisionele nommers, kort-kort onderbreek met allerhande steurende en wanklinkende akkoorde nie. Ek bedoel ook nie die verskillende begeleidende instrumente moet op ‘n tipiese Jazz-styl elkeen hulle eie koers inslaan en sodoende die leidende instrument ondermyn nie. ‘n Ou nommer verbeter oon nie wanneer ‘n mens dit ‘n nuwe naam of komponis gee nie.
‘n Mens moet eerder konsentreer op korrekte harmonie en as ‘n mens ‘n tweede stem wil gebruik, moet dit aanvullend en tot ondersteuning van die melodie plaasvind.
Tradisionele Boeremusiek kan vandag nog gekomponeer word en ongelowiges kan gerus by oom Hannes Viljoen en oom Boet Steyn gaan kersopsteek.
Oor die kwessie van instrumente heers uiteenlopende menings. Akoestiese instumente het ‘n ander aanslag en hierdie manier van instrument hanteer kan nie met elektroniese instrumente nageboots word nie. Klankversterking in ‘n groot lokaal doen nie afbreuk hieraan nie. Die basviool is ‘n skaars artikel en baie ongemaklik om te vervoer dus kan ‘n mens sekerlik nie ‘n orkes verkwalik as hulle eerder ‘n baskitaar wil gebruik as die volume nie die balans van die ander instrumente oorheers nie.
-Stephaan van Zyl