Josias Johannes Erasmus (Sias)

Sias Erasmus

Josias Johannes Erasmus is gebore op 5 Oktober 1958 te Pretoria. Sy pa was in die destydse Spoorwegpolisie. Hulle bly ‘n kort tydperk in Salvokop en hy gaan skool te Laerskool Jopie Fourie. Hulle verhuis later na Daspoort. Sias was ‘n leerling aan Langenhoven Hoërskool, oorkant die Pretoria dieretuin. Na skool bekwaam hy hom as ‘n treindrywer by die destydse Suid Afrikaanse Spoorweë.
Sias en Susan word in die eg verbind op 1 Augustus 1981. Twee dogters word uit die huwelik gebore, naamlik Chantal en Jacqueline.
In die jaar 2000 word hy medies ongeskik verklaar by die Suid-Afrikaanse Spoorweë. Hy doen vir ‘n ruk instandhouding by iemand in Montana en daarna betree hy die konstruksiebedryf tot en met sy dood op 17 Februarie 2019.

Sias se liefde vir tradisionele boeremusiek was alom bekend. Hy was vir baie jare die persoon wat die laserskywe, langspeelplate en ook administratiewe werk vir die TBK gedoen het. Hy was ‘n steunpilaar en in hierdie opsig gaan ons hom ook geweldig mis. Tydens ons laaste Hoofbestuursvergadering het hy aangebied om die Grootvoëlfees in Oudtshoorn by te woon om laserskywe te gaan verkoop. Sy werksetiek was in hierdie opsig onberispelik. Vir tradisionele boeremusiek sou hy enigiets doen.
Hy was die laaste jaar ook die voorsitter van die Pretoria-tak van die TBK, ‘n rol wat hy met onderskeiding vervul het. Hy het altyd musikante na sy huis genooi vir ‘n musiekoefening soos hy dit genoem het. Hier het ek ‘n ander sy van hom leer ken. Iemand wat uit sy pad gegaan het om ‘n mens tuis te laat voel, gasvry en baie nederig.
Hy was nie skaam om oor sy geloof te praat nie en ek weet uit my hart uit hy was ‘n kind van die Here. Sy kleinkinders en sy familie was vir hom alles en hy het die Saterdag voor sy dood nog oor hulle gespog.

Ons is juis na sy huis toe genooi om te kom oefen na die Pretoria-tak se vergadering op 16 Februarie 2019. As jy hom gevra het wat jy kan saambring, was sy antwoord altyd: “niks, net jou musiekinstrumente.” Sias het hierdie keer nie gebraai nie, maar ‘n heerlike skaappotjie vir ons voorgesit. Tydens die spelery het hy op ‘n stadium ‘n botteltjie bier se prop met ‘n plastiese bottel stroop oopgemaak. Ek en Jan van Wyk het omtrent ophou speel van verwondering toe ons dit sien. My eerste woorde aan Sias was: “drink jy goue stroop in jou bier?” Hy het net lekker gelag oor die episode. Ons is almal net voor tien die aand daar weg, min wetend dat dit die laaste keer sou wees wat ons hom lewend sou sien. Ek het soos gewoonlik die volgende oggend voor kerk gou vir hom ‘n dankie-sê boodskap gestuur. Sy antwoord was: “Baie dankie, ek waardeer jul opofferings. My buurman sê ook dankie vir die puik musiek. Sy seun, uit Amerika, kuier by hom en wil cd’s koop voor hy teruggaan. Aansteeklik.”
Die Sondag van 17 Februarie 2019 lui my foon, ‘n oproep van Sias af. Ek kon nie dadelik antwoord nie en twee minute later lui my foon weer. My woorde was: “Hallo Sias, hoe gaan dit?” Net om Susan se stem te hoor wat sê Sias is oorlede. Wat ‘n skok! Skaars 24 uur terug het ons nog gekuier en geskerts. Dit kan mos nie wees nie! Dit voel vir my nog baie onwerklik. Die man wat altyd by die funksies van die TBK by die laserskyftafel gesit het, sal nie weer daar wees nie. ‘n Groot slag vir sy familie en vriende, maar nog erger vir die TBK, die Organisasie wat hy met soveel liefde gedien het. Sy wens was om veras te word. Sy as moet met die volgende funksie op die dansvloer gestrooi word. Hy wil darem nog vir oulaas onder die jong dames se rokke inkyk, was sy opdrag aan Susan. Tipies ou Sias.
Ek sien in my geestesoog hoe hy op sy rolstoel op die maat van Magoebaskloof die hemelpoorte in - “wheelie”.

Sias, ons almal gaan jou geweldig baie mis. Dankie wat jy alles vir tradisionele boeremusiek gedoen het. Tot ons mekaar eendag weer sien.

Jou vriend

Hugo Radley