Orkeste en musikante

Hoe meer ‘n mens in die verlede krap, hoe meer doem daar interessante mense op wat ‘n besondere rol in hulle omgewing gespeel het met hulle musiekmakery. Dit was danse, feestelikhede, ou- en nuwejaarsjolyte en selfs ook begrafnisse. Dieselfde hande wat die seties en wals by die dans gespeel het, het ook die psalm en gesang by die kerk en begrafnis gespeel. Daar was nie so baie musikante nie en die wat daar was, moes maar net in die regte stemming kom vir die geleentheid en die nodige doen. Sommige van die karakters se “storie” het behoue gebly, maar helaas te veel se storie het saam met hulle graf  toe gegaan.

Dit wat ons wel bereik het, sal aangebied word in die hoop dat nog stories tussen die voue sal uitkom soos die kombers van die verlede oopgevou word. Dit is tog nie moontlik dat daar niemand meer is wat iets weet van die interessante musiekkarakters op die delwerye en die streke waarvandaan al die ander stories kom nie.

Nog ‘n groep musikante waarvan ons glad te min weet, is die vrouens wat vir meer as ‘n eeu lank op die trekpad en die afgeleë plase, die musiek aan die lewe help hou het met die boerekonsertina, serfyn en ander instrumente. Die oorgrote meerderheid het nooit in die “publiek” gespeel nie maar met huisplesiere musiek gemaak en om die kaggels die sang begelei. Opvallend is hoeveel bekende musikante self gesê het dat hulle by hulle ma of ouma geleer het om boerekonsertina en serfyn te speel. Die mans wat wel musieklik was, was soms vir lank van die huis af weg en dan het die vrouens self alleen die musiekopvoeding van die kinders behartig en die musiek vir die plesiere gemaak. Maar ongelukkig het dié vrouens se bydrae tot die behoud van ons musiek nog maar min aandag gekry. Wie gaan opstaan en hulle storie vertel?

Voorlopig volstaan ons met die orkeste en karakters wat so van 1925 af  opgetree het en waarvan daar darem genoeg bekend is om hulle storie te vertel.

[Die inligting wat in hierdie gedeeltes weergegee word, is gedeeltelik afkomstig uit Piet Bester se drie Boeremusiekgedenkboeke, aangevul met verdere inligting wat daarna bekom is van die betrokkenes se familie,vriende en ander bronne. Waar nodig sal die bronne in die teks genoem word. Die foto’s is ook oorwegend uit die Piet Bester-versameling verkry met aanvullings van familie en vriende en enkele sketse.]

Vyf Vastrappers

vastrappers

Die Vastrappers - 1926

Hierdie orkes het in 1925 tot stand gekom deur die volgehoue pogings van Carolina Leeson. Daar was ‘n groot behoefte aan orkeste wat tradisionele musiek speel aan die Oosrand en Carolina was daarvan bewus. Sy wat self uit ‘n huisgesin gestam het waar tradisionele musiek deurlopend weerklink het, het besef dat daar nou ‘n plan gemaak moes word om die behoefte in die Benoni-Brakpanomgewing te probeer bevredig. Haar kleinneef, Henry Zeller, ‘n netjiese musikant wat konsertina, kitaar en banjo kon speel, het haar belowe om met ‘n konsertinaspeler wat hy ken, Hans Bodenstein, wat daar naby woon, oor die stigting van ‘n orkes te praat. Hans stem in en onderneem op sy beurt om sy vriend Henry Kruger, ‘n kitaarspeler, ook oor die saak te pols. Carolina was in ieder geval met ‘n banjospeler, Stol Leeson, wat haar entoesiasme gedeel het, getroud. En daarmee was die sirkel voltooi en kom die Vyf Vastrappers in 1925 tot stand met Hans Bodenstein en Henry Zeller as medeleiers. Carolina self het die klavier getokkel. Daarmee het ‘n orkes tot stand gekom wat tot vandag toe groot invloed uitoefen in die wêreld van ons tradisionele musiek.

Die Vyf Vastrappers se samestelling het meegebring dat uitstekende tradisionele musiek gespeel en bewaar is. Carolina het die musiek wat sy geken het, in haar ouerhuis geleer. Haar ouers het op die viool, konsertina en traporrel die musiek uit die Jamestownwêreld gespeel, tradisionele musiek so eg en suiwer as wat ‘n mens dit maar teëkom. Hierdie musiek het Carolina geken en gespeel en haar Ma het haar die regte speelstyl op die traporrel geleer. Sy het self gesê dat heelwat van die musiek wat die Vyf Vastrappers gespeel het, het sy by haar pa geleer. Hans Bodenstein weer het die musiek van sy leefwêreld, Potchefsroom-Brakpan-Benoni met ‘n geursel van die musiek uit die Koppies-Winburg-omgewing met hom saamgedra. Hy was ‘n beleë en veredelde musikant wat sy mense se musiek gespeel het met ‘n behendigheid en in ‘n styl wat klassiek is. Sy passie en vermoë met ‘n 3ry-konsertina is werklik uniek en die suiwerheid en die egtheid van die musiek is aangrypend. Die werkskultuur van die orkes het behels dat elke musikant ‘n bydrae kon maak in die afronding van ‘n stuk voor dit aangebied is. En dan sal Carolina Leeson se klavierspel ‘n mens altyd bybly. Hoeveel kleur het dit nie aan die musiek van die Vyf Vastrappers gegee nie. Dit is te verstane dat dr Hans la Grange, met sy hartstogtelike liefde vir ons tradisionele musiek, gesê het dat as ‘n mens vir ‘n vreemdeling moet verduidelik wat tradisionele boeremusiek is, speel jy net die musiek van die Vyf Vastrappers en in besonder Polka GR 54.

Die Vyf Vastrappers het gereeld Saterdaeaande in die Brentwoodparksaal in Benoni gespeel. Dit is dan ook hier waar die verteenwoordigers van Polliack op Saterdagaand 19 Julie 1930 na die Vyf Vastrappers gaan luister het met die oog daarop om opnames van dié Orkes vir die Afrikaanse mark, wat hulle toe wou ontgin, te maak. Die Vyf Vastrappers se musiek was nommerpas en op 22 Julie 1930 is twaalf snitte opgeneem wat van die middel van November 1931 op die mark verskyn het. Dit is die groen GR-Regalplate waarop die musiekstukke sonder name verskyn het. Dit spreek boekdele vir die standaard en kwaliteit van die orkes dat hulle musiek binne drie dae opgeneem en so bemark is. Daar was omtrent net genoeg tyd om te besluit watter stukke om te speel. In die tweede helfte van 1932 is ‘n tweede rondte opnames gemaak en dit het in die doodsnikke van 1932 op die mark begin verskyn Dit is die Columbia AE-reeks. Nie baie lank na die laaste opnames nie, het die Vyf Vastrappers ontbind.

Die agting en respek waarmee ouer musikante, veral konsertinaspelers, van “oom Hansie Bodenstein se musiek” gepraat het, vertel eintlik self die storie van hierdie hoogs begaafde, saggeaarde maar standvastige musikant wat ‘n besondere Orkes gelei het.

Hans Bodenstein

hansbodenstein

Hans Bodenstein

Johannes Pieter Bodenstein is op 27 Julie 1892 te Bo-mooirivier by Potchefstroom gebore as die jongste kind van Johannes Pieter Bodenstein en Margaretha Louisa Wolfaardt. Hans het na sy skooljare in Benoni te lande gekom en met tussenposes daar gebly tot met sy dood. Soos soveel ander musikante wat in daardie omgewing gebly het, het hy ook by ‘n myn gewerk. Hans was getroud met Joe [Johanna Carolina Elizabeth] en hulle het vier dogters gehad. Joe was eintlik Engelssprekend maar was Afrikaans goed magtig. Sy het Hans met meer as dertig jaar oorleef en is op 4 April 1978 in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Die jong egpaar was nie lank getroud nie, toe die mynstaking van 1922 meegebring het dat Hans en Joe vir meer as twee jaar sonder mekaar moes klaarkom. Hans was een van die stakers wat voëlvry verklaar is en ‘n beloning is op sy kop geplaas, lewend of dood. Hy en sy neef en naamgenoot, Vaalhans – Manie Bodenstein se pa – wat ook voëlvry verklaar is, het toe besluit om vir ‘n wyle uit te wyk na veiliger oorde toe. Hans het toe ‘n paar persoonlike benodighede gepak en, baie belangrik, sy boerekonsertina in ‘n kussingsloop agter op die fiets vasgemaak en die aand toe dit donker was, het die twee Hanse met ‘n fiets die donkerte in verdwyn. Hulle het koers gekies Vrystaat toe en in ‘n boer se skuur, in Koppies se wêreld, skuiling gevind. Hier waar die mense hulle nie geken het nie en dit ‘n tyd sou duur voordat die mense in die omgewing sou verneem dat van die myners voëlvry verklaar is, het die Hanse vermoed kan hulle oorleef en vir die toekoms beplan. Op ‘n dag kom daar ‘n man te perd aan en deel aan die plaasboer mee dat die Polisie in die omgewing op soek is na mynstakers wat voëlvry verklaar is. Hans Konsertina en Vaalhans het toe besef dat hulle ernstig moet uitwyk en ter wille van beide se veiligheid van mekaar moet skei. Weer het die twee die donkerte in verdwyn. Vaalhans het koers gevat Duitswes [Namibië] toe met die fiets en het daar werk gekry om die Polisie te help om die smokkel van diamante teen te werk. Hans Konsertina weer, het volgens fluisteringe in die familie, ‘n veilige hawe in die Winburgomgewing gevind. Hans en sy familie het soos die graf geswyg oor dié tydperk van sy lewe. Seker maar om niemand in  verleentheid te bring nie.

Na twee jaar of wat, het die Hertzogregering aan bewind gekom en is die voëlvryverklaring herroep en kon die Hanse terugkeer huis toe en weer by die myn gaan werk. Een ding het egter dadelik soos ‘n paal bo water gestaan, en dit was dat Hans Konsertina in die tyd waaroor hy geswyg het, hom ernstig daarvan vergewis het hoe ‘n konsertina gespeel moet word. Nie lank na sy terugkeer nie, begin Carolina Leeson met musikante onderhandel om ‘n orkes te vorm en so klop Henry Zeller aan Hans se voordeur om hom te vra om die konsertinaspeler en medeleier van die Vyf Vastrappers te word. Hans willig in en die verdere verloop is geskiedenis.

Hans het vir hom ‘n 3ry Wheatstoe aangeskaf waarmee hy die pad verder sou loop. Hierdie konsertina het na Hans se dood rondgeswerf totdat dit in Zeerust opgespoor is en deur Nicho Steyn aangekoop is. Hy het die konsertina laat herstel en dit by sy versameling geplaas. Ongelukkig is daar in 2006 by sy huis ingebreek en is die konsertina gesteel. Die bewys dat dit Hans se konsertina was, het gekom toe ‘n munisipale rekening onder in die kassie gekry is.

In 1933 het die Bodensteins in Fortstraat 34a – wat nou Voortrekkerstraat heet – in Benoni gaan woon. Nie lank hierna nie [1934] het die Vyf Vastrappers ontbind en alhoewel Hans later weer ‘n orkes op die been gebring het, was die gloriedae vir goed verby. Hy het nog met geleenthede by gesellighede oral oor gespeel maar die omstandighede was nie meer daarna om soos vroeër te kon woeker nie. In 1938 het hy die myn se diens verlaat en hom in die omgewing van Bronkhorstspruit op sy broer Piet se plaas, Albertmyn, gaan vestig. In 1940 verhuis hy na die plaas Wolwekraal in Marble Hall, maar die poging om daar te boer was nie geslaagd nie en na ‘n draai in Thabazimbi is die Bodensteins terug Benoni toe. Hulle gaan bly toe by hulle tweede oudste dogter, Griet, te Swanstraat 2, Benoni. Hier het Hans gebly tot sy dood op 2 April 1946.

Hans Bodenstein……’n stil en saggeaarde mens maar rotsvas oor sy eie en sy mense se saak. En as musikant en vertolker van sy geliefde musiek, was hy een van die grootstes. Hy het die werk verstaan om ‘n boerekonsertina en ‘n 3ry te laat praat, sommer klassiek te laat praat ; ‘n mens wil amper sê te laat  profeteer, om vir ‘n wyle die wêreld van die geroepenes en begenadigdes te betree. Hoe klink boeremusiek? – luister na Polka GR 54! [Hans la Grange]. Eg, suiwer en stylvol…

Carolina Leeson

carolinaleeson1 carolinaleeson2
 Carolina Leeson - 1926 Carolina Leeson - 1980 

Carolina Margaretha Ferreira is op 13 September 1901 te Jamestown gebore. Beide haar ouers was musikante. Haar pa, Gert Marthinus Ferreira, het viool en konsertina gespeel en haar ma het veral die traporrel bespeel. Carolina word daarom groot in ‘n huis waar tradisionele musiek iets alledaags was en haar ma het haar dan ook van kleins af met die traporrel touwys gemaak. Toe sy agt jaar oud was, het sy reeds saam met haar ouers by gesellighede gespeel. Haar pa het by die Spoorweë gewerk en is dus dikwels verplaas.

Carolina bring haar jeugjare in Waterval-Boven deur. Na skool gaan sy vir opleiding in die verpleegkunde en tree dan as sestienjarige op 13 November 1917 met Stol [Christoffer John] Leeson in die huwelik. Stol,wat geen instrument kon bespeel nie, het toe by Carolina geleer om die kitaar te bespeel en haar te begelei. Carolina het in ieder geval ‘n passie vir die musiek waarvoor sy in haar ouerhuis ‘n liefde aangeleer het, gehad. Tussen haar opleiding en verpligtinge as huisvrou deur, het sy haar vaardigheid met ‘n klavier opgeskerp en toe hulle in 1925 in Benoni [Carolina het altyd na Brakpan verwys] was en sy haar daarop toegespits het om ‘n orkes op die been te bring, was sy slaggereed om die klavier te beman. Haar speelstyl getuig daarvan dat sy in ‘n gevestigde musiektradisie opgegroei het.

Die Vyf Vastrappers se samestelling van musikante was van huis uit ‘n waarborg vir sukses. Enersyds was daar die stil, rustige Hans Bodenstein en andersyds die entoesiastiese, woelige Carolina wat die gees en atmosfeer geskep het. Beide was begaafde musikante wat mekaar en die ander tot hoër hoogtes gevoer het.

Die berig wat in die Rand Daily Mail van 24 Julie 1930 verskyn het, nadat die verspieders van Columbia die Vyf Vastrappers gaan beluister het, bevat interessante mededelings. Van Carolina en die orkes word berig :” A woman thumped enthusiastically on a piano that bore the marks of many a stern encounter.The melody was being powerfully coaxed from a concertina, while the rhythmic support was being accorded with gusto by two guitars and a banjo”. Dan sluit die opmerking af met die woorde :”This was the genuine article without a doubt”.

Na die Vyf Vastrappers ontbind het, het Carolina weer ‘n orkes op die been gebring. Die orkes is die Plesierspelers genoem en het ‘n paar plaatopnames gemaak. Die naam sê iets van Carolina – dit was vir haar net` ‘n plesier om musiek te maak. Baie jare later, in 1980, het Lourens Aucamp Carolina oorreed om ‘n  langspeelplaat met traporrelmusiek te maak. So gesê, so gedaan. “Carolina Leeson speel weer” het die lig gesien. Corrie Badenhorst het haar netjies met ‘n banjo begelei.

Na Stol se dood het Carolina in ‘n woonstel aan die Oos-Rand gaan woon en daar tot met haar dood op 30 Augustus 1991, twee weke voor haar negentigste verjaardag, gebly.

In 1984 het sy onverwags saam met Danie Labuschagne by  ‘n oefensessie van die Oudagboereorkes, wat op band opgeneem is, opgedaag. Sy het aandagtig alles wat gebeur, beluister en toe later voor die klavier ingeskuif. Die orkes het toe van die musiek gespeel wat sy ken en gou was die vuur en behendigheid op pad terug, net die vingers wat 83 jaar oud was, het bietjie tyd geneem om weer los te raak. En is dit nie ‘n plesier om daarna te luister en te hoor hoe ‘n klavier in ‘n tradisionele boereorkes moet klink nie.

Carolina Leeson was ‘n begaafde musikant wat met passie en vuur haar en ons geliefde musiek, met ‘n besondere aanvoeling vir die vertolking daarvan, gespeel het. As ‘n mens kan, dan moet jy!

Vier Springbokke

Orkeste in daardie jare, begin negentiendertigs, het nie eintlik name gehad nie en die konsertinaspeler se naam is gewoonlik as die “verwysingsnaam” gebruik. Orkeslede het ook gewissel en dan in hierdie orkes en dan in daardie een gespeel, afhangende van omstandighede en beskikbaarheid. Met die plaatopnames in Oktober 1932 was dit nodig dat die orkeste name sou hê om op die plate te druk en dit was Chris Blignaut wat die knoop deurgehaak het en aan die Vier Springbokke, die Vier Transvalers, die Vyf Dagbrekers en die Ses Hartbrekers, dié name gegee het, wat hulle so aanvaar het. Chris en Gerrie Snyman was in ieder geval deur die platemaatskappy as tussengangers gebruik om die orkeste, insluitende die Vier Hugenote van Willie Palm, op te spoor en bymekaar te kry vir opnames. Na hierdie opnames het die orkeste eintlik nooit weer onder die name saam gespeel en opnames gemaak nie. Die Vier Hugenote was miskien die uitsondering deurdat hulle lank na 1932 ‘n langspeelplaat “Die Vier Hugenote speel weer” gemaak en dieselfde naam weer gebruik het.

Die musikante wat as die Vier Springbokke, na hulle plaatopnames in 1932, bekend sou word, was nie ‘n orkes wat gereeld saam gespeel het nie. Pietie Prinsloo, konsertinaspeler van die orkes en Henry Rex, die kitaarspeler, wat swaers was, word as medeleiers van die orkes aangegee. Henry was met Pietie se suster, Johanna, getroud. George Breval, die klavierspeler, het in ‘n weeshuis grootgeword en het soms vir lang tye rondgeswerf en sy brood verdien deur in hotelle en vermaaklikheidsplekke musiek te maak. Hy was ‘n talentvolle klavierspeler wat selfs per geleentheid in Hendrik Susan se orkes gespeel het, maar hy het miskien nie so netjies in ‘n tradisionele boereorkes ingepas nie. George was baie goed bevriend met Babes Prinsloo, Pietie se broer Hendrik se vrou, wat vir baie musikante in daardie moeilike tye, na haar man se vroeë dood, soos ‘n tweede ma was. George se swerflus het in sy later jare bedaar en hy het musiekonderrig gegee en selfs ‘n orkes op die been gebring. Bossie Bosman, die tjellospeler, weer, was eintlik deel van die Vier Transvalers. Pietie en Faan Harris, leier van die Vier Transvalers, was goed bevriend en Bossie het die musiek wat Pietie gespeel het, goed geken. Gevolglik is dit te verstane dat waar tjellospelers nie so volop was nie, Bossie vir Pietie in die bres sou tree met Faan Harris se toestemming.

Die Vier Springbokke se slaankrag lê hoofsaaklik in die uitmuntende konsertinaspel van Pietie Prinsloo. Sy handvaardigheid en tegniek is soms verstommend. Konsertinaspelers sê ‘n mens word daarvan erg bewus as jy oom Pietie korrek probeer naspeel. Marius Louw wat darem self ‘n deurtrapte konsertinaspeler is, het eenmaal in ‘n televisieprogram gesê : “ Oom Pietie voer dit darem soms tot die absurde”. Pietie Prinsloo het musiek gemaak omdat hy dit kon doen en dit geniet het en omdat hy aan ander mense plesier wou verskaf.  Hoewel hy sy lewe lank net per geleentheid musiek gemaak het, het hy bedoel om dit te doen as hy sy 3ry opgetel het. Die Vier Springbokke se musiek sal altyd ‘n kleinnood bly en hopelik sal meer musikante vorentoe Pietie Prinsloo se musiek aandurf.

Pietie Prinsloo   

pietie1 pietie2 pietie3
Pietie Prinsloo - 1932  Pietie Prinsloo - 1968  Pietie, Alice en vriendjies 

Petrus Marthinus Prinsloo is in 1896 in Johannesburg gebore. Hy was maar drie jaar oud toe die Tweede Vryheidsoorlog in 1899 uitbreek en sy pa, wat ‘n polisieman was, weg is oorlog toe. Hy en sy broer en suster, Hendrik en Johanna, het dwarsdeur die Oorlog by hulle ma – Nanny – in Johannesburg gebly. Met sy pa se terugkoms in 1902 vind hy dat Nanny ‘n verhouding met ‘n ander man aangeknoop het en hulle is geskei. Sy pa het toe ‘n transportryer geword en hom later, toe hy weer getroud is, op Verloren, naby Tuinplaas, gaan vestig. Pietie was baie geheg aan sy pa en het met skoolvakansies die pad gevat met ‘n fiets en sy pa gaan opsoek. Sy pa het karweiwerk van Pilansberg en soms van Stinkwater na Pretoria gedoen. Nog ‘n transportryer wat van Louis Trichardt na Johannesburg karweiwerk gedoen het, was Faan Harris. Met een van die besoeke het Pietie by een van die uispannings, Faan Harris ontmoet. Soos Faan se geaardheid was, het hy seker na al die pligte vir die dag afgehandel is, sy boerekonsertina gevat en begin speel. Pietie het erg in die konsertinaspelery belanggestel en Faan het hom touwys begin maak. Pietie was ‘n vlytige leerling wat vinnig gesnap het wat aangaan en het gou agter die kap van die byl gekom. Nie ‘n sleg leermeester, die  Faan Harris nie!

Toe sy skoolopleiding ten einde geloop het, het Pietie hom as timmerman bekwaam en by ‘n myn gaan werk. Hy kon hom egter nie daarmee versoen om so baie ondergronds te werk nie en het daarom na ‘n jaar bedank en as kondukteur op ‘n trem gaan werk.Hier het hy Henry Rex, wat ‘n kitaarspeler was, ontmoet en het hulle begin saamspeel. George Breval kruis toe ook Pietie se pad en hy begin ook saamspeel, as hy nie op een van sy swerftogte was nie. Henry en George het daarom Pietie se musiek geken en kon in 1932 maklik inskakel en saamspeel.

Pietie het dit nog altyd in sy kop gehad om eendag, as hy die geld het, te gaan boer. Na ‘n paar jaar se werk by die tremdienste bedank hy en Henry saam en hulle koop met die geld wat vir hulle uitgekeer word, die plaas Verloren naby Tuinplaas, waar sy pa hom gevestig het. Na ‘n jaar het Henry besluit dat boerdery nie verder sy nering sal wees nie en hy gaan terug en tree weer by die munisipaliteit in diens en werk as stoorman in Benoni tot sy aftrede. Pietie het Henry se deel van Verloren uitgekoop en nou kon hy rustig voortboer. Sy pa het tot sy dood op Verloren gebly.

Pietie Prinsloo was ‘n netjiese boer en het met grondbone, mielies en beeste sy bestaan gemaak. Hy het met osse geploeg en was trots op sy diere. Omdat hy handig was, het instandhoudingstake ook nie vir hom moeilik geval nie.

Pietie was baie gesteld op sy persoonlike netheid en was altyd goed versorg. Hy het ‘n voorbeeldige lewe gelei en sy familie en kultuur het hom na aan die hart gelê. Die Prinsloos was ‘n hegte familie en Pietie, wat self nie kinders gehad het nie, was besonder geheg aan sy broer Hendrik se kinders. Met Hendrik se oudste dogter, Koekoe, en twee van haar skoonsusters, Lenie en Grieta, het hy ‘n besondere noue band gehad. Dit verklaar dan ook waarom drie van sy 1932-opnames die name “Koekoe, my hartjie-seties, Grieta, jou liewe ding-polka en Lenie, my ding-wals” gekry het. Hierdie stil, besadigde en saggeaarde mens, het sy familie vertroetel en op al die foto’s van hom, is daar altyd familie saam met hom. Iets wat ‘n mens glo gou van hom opgeval het, is dat hy wat maar 170 cm lank was, sulke groot hande en kort, dik vingers gehad het.

Gedurende sy verblyf op Verloren, het Pietie met geleenthede op bruilofte en funksies musiek gemaak. Daar is wel met die geleenthede gedans, maar hy het nie by gereelde danse gespeel nie, om sy vrou Alice nie te ontstel nie. In 1953 het hy Verloren verkoop en ‘n huis in Agstelaan, Benoni gekoop en daar gaan woon. Hy het nog drie skakelhuise in Northmead gekoop en dit verhuur. Hiermee het Pietie afgetree en sy vrou belowe dat hy ook sy konsertina vir goed sal wegpak. Hy het woord gehou behalwe ‘n Saterdagaand in 1954 toe hy en sy vrou by Henry Rex-hulle aan huis was. Willie Bauscher en een van Pietie se broerskinders kom toe ook daar aan. Willie en Pietie was gewoond daaraan om as hulle en ander musikante wel bymekaar uitkom, word daar musiek gemaak. Willie het Pietie oorreed om tog maar vir oulaas saam te speel. Pietie het ingewillig en sy beste gegee. Terwyl hy speel, kom Alice daar in en sê : “Ou man, jy speel weer soos toe ons jonk was!”. Dit was, sover sy familie bewus is, die laaste maal wat Pietie aan ‘n konsertina gevat het.

In 1967 is Alice oorlede. Pietie is toe weer getroud en het te Ludorfstraat 46, Brits gaan woon. Op 2 Maart 1973 is hy daar, op 77-jarige ouderdom, oorlede en is langs Alice in die Benonibegraafplaas te ruste gelê. ‘n Seder het geval en ‘n maanhaar met ‘n konsertina het gaan rus.

[Siempie Prinsloo van Defiantstraat 12, Airfield, Benoni, wat met Hendrik se dogter Lettie getroud was en Pietie baie goed geken het en familie van hom in Brits, het van die inligting voorsien.]

Vier Transvalers
viertransvalers

Vier Transvalers,Frans Ebersohn, Faan Harris, Bossie Bosman, Piet Bosman

Die musiek van die Vier Transvalers het sedert 1932 nog geensins in gewildheid afgeneem nie. Daar verskyn vandag nog steeds weinig CD's waarop daar nie van hulle musiek is nie. Luister ‘n mens na hulle musiek, is daar iets besonders daaraan wat jou bybly en as’t ware in jou kop vashaak en bly dwarrel .

Faan Harris, die konsertinaspeler en leier van dié orkes was ‘n puntenerige man as dit kom by sy musiek en die begeleiding daarvan. Daar was maar net een reël wat deurlopend gegeld het, alles moes reg en korrek gedoen word. Bossie Bosman het die tjello gespeel en dan het Frans Ebersohn en Sewes van Rensburg die kitaarspel gelewer. Op die bekende foto van die Vier Transvalers was Sewes van Rensburg nie beskikbaar nie en Piet Bosman, Bossie se pa, het die tweede kitaar bespeel. Faan Harris self het eers op die kitaar leer musiek maak voordat hy die boerekonsertina ter hand geneem het. Sakkie van Wyk, wat self  ‘n vermaerde konsertinaspeler was, het met ‘n partytjie waar Faan ook musiek gemaak het, verbaas gestaan oor sy behendigheid met die kitaar. Ander musikante vertel ook hoe baie hulle van kitaarspel by Faan Harris geleer het. Faan op sy beurt, so word vertel, het weer by Schubel Ernst, waarvan sover niks meer bekend is nie, eers kitaar leer speel en daarna konsertina. Faan se kennis van kitaarspel en fyn aanvoeling vir musiek het meegebring dat sy orkes so ‘n kenmerkende styl van begeleiding gebruik het. Die kitare is op verskillende toonhoogtes [glo ‘n noot uitmekaar] ingestel om soos dit hoort, met die tjello saam te smelt en ‘n welluidende begeleiding vir die konsertina te wees. Goeie begeleiers en ‘n skerp leier maak die wêreld se verskil aan die kwaliteit en aanslag van ‘n orkes. Die Vier Transvalers het hierdie kuns bemeester en Faan Harris wat as konsertinaspeler oor buitengewone vaardighede en aanvoeling vir die aard en vertolking van die musiek, waarvoor hy lief was, beskik het, het hulle gelei en begeester om ‘n baie besondere orkes te wees. Luister ‘n mens weer ‘n slag na hulle musiek , dan kom die besef dat hierdie manne, veral Faan, speel uit hulle hart uit  met groot vaardigheid.

Solank ons musiek voortbestaan, sal die Vier Transvalers deel daarvan wees.

Faan Harris het ook ‘n stuk of twintig snitte saam met die Vyf Voortrekkers, Singerdansorkes, Gallotonekonsertinaorkes, Faan Harris en sy Boslansers, Transvaalmusikante, Faan Harris-orkes, Dawid de Lange en Chris Blignaut se Wolbekke, opgeneem. 

Faan Harris

faanharris1 faanharris2 faanharris3
Faan Harris - 1939  Boet Steyn en Faan Harris - 1948  Skets van Faan Harris 

Stephen Emil Harris is een van die “karakters” van boeremusiek wat eiesoortig is en in wie se lewe byna niks gewoon was nie. ‘n Poging om sy lewensloop te ontrafel, eindig telkens met ‘n lappieskombers wat nie ‘n duidelike patroon vertoon nie. Maar die goue draad waarmee al die lappies aan mekaar vasgewerk is, is Faan Harris se talent en vermoë om ‘n konsertina so te bespeel soos weinig andere kon. Hy was ‘n half misterieuse mens wat sy gang op sy eie gegaan het en hom min gesteur het aan wat andere dink en sê. Die gevolg is dat baie dele van sy lewenslegkaart in onsekerheid gehul is.

Volgens mededeling van oom Boet Steyn, wat Faan goed geken het, het hy nooit oor die verlede gepraat nie, veral nie oor sy eie verlede nie. Hy het ook nie oor ander mense gepraat nie en net so dan en wan het daar iets uitgeglip oor wat met homself of iemand anders gebeur het, as sy humorsin hom verlei het.

Daar word aanvaar dat Faan in 1886 gebore is, maar wie sy pa en ma was en waar hy grootgeword het, is onbekend. Hy moes  as ‘n seun reeds geleer kitaar en konsertina speel het want as Pietie Prinsloo hom op die transportpad raakloop, is hy reeds ‘n bedrewe speler. Hierdie is ook eintlik die eerste keer wat ons kennis neem van Faan Harris en sy konsertina. Hy het van Louis Trichardt na die Rand transport gery. ‘n Vraag wat met reg nou gevra kan word , is of hy toe reeds as Faan Harris bekend was en of hy ‘n ander van gehad het. Ons verneem dan vir die eerste keer weer van hom as hy in 1922 se koers die Hartebeespoortdam help bou en Saterdagaande in die ‘White Hall’ vir die werkers musiek met sy boerekonsertina gemaak het. Oom Thysie Nortjé gee die versekering dat sy pa, wat self by die Hartebeespoortdam se bouery betrokke was, vir hulle vertel het dat ‘n uitstekende boerekonsertinaspeler Faan Hakkeveld [of Hackefeld ] vir hulle Saterdagaande musiek gemaak het saam met ‘n kitaarspeler wie se naam hy nie kon onthou nie. Die dag toe Faan daar weg is, het hy kom groet en gesê hy gaan nou ‘n beter werk by die Spoorweë soek maar sal sy van moet verander om werk te kry. ‘n Ander betroubare bron het ook gemeld dat Faan se van eers Hackefeld was. Of hy wel werk by die Spoorweë gekry het, is onseker maar gerugte het dit dat hy by die Paaiedepartement gaan werk het en dat sy seuntjie, Fransie, daar deur ‘n voertuig doodgery is. Dit is hoekom Faan die ‘Lief Fransie-wals’ met soveel passie en gevoel speel. Later sal Fransie en die pynlike geskiedenis weer opduik.

Uiteindelik het Faan in Sivewrightstraat 52b, naby die Spoorwegstasie in Krugersdorp gaan woon. Hier het hy volgens alle aanduidings vir ‘n geruime tyd gewoon. Op 15 April 2005 is ‘n baie interessante onderhoud met mev. Yvonne Swanepoel en haar ouer suster gevoer. Yvonne is in Sivewrightstraat gebore en het met enkele onderbrekings die afgelope sestig jaar daar gewoon. Met groot omsigtigheid is daarteen gewaak om haar nie in die gesprek te lei na mededelings toe nie. Op die vraag of hulle iets weet van ‘n ene Faan Harris wat glo in Sivewrightstraat gewoon het, het sy sonder aarseling gesê ja en die adres genoem.Uit haar mededelings, wat haar ouer suster beaam en soms op uitgebrei het, het die volgende geblyk :

[1]. Hulle het Faan se vrou tannie Fiena genoem. Sy was ‘n skraal mens met ligte hare, maar sy was baie kwaai en het jou maklik te lyf gegaan.

[2]. Hulle het twee kinders gehad, die oudste was ‘n meisiekind wat ook ligte hare gehad het en dan was daar ‘n jonger seuntjie wat Fransie genoem is.

[3]. Toe die seuntjie so 5 of 6 jaar oud was, is hy deur ‘n dronk man met ‘n ‘36 Chev in die straat gestamp en hy het oor sy middellyf gery en die seuntjie is dood. Die oudste suster onthou nog die wit kissie wat op die stoep gestaan het met die begrafnis.  Daar was ‘n hofsaak oor sy dood.

[4]. “Dié oom [Faan] was ‘n bouer, maar nie soos my pa wat net gebou het nie, hy was ‘n ‘jack of all trades’ ”.

[5]. “Na die seuntjie se dood is die oom en tannie uitmekaar en is hulle weg uit Sivewrightstraat. Die dogtertjie het saam met haar ma gegaan”.

[6]. “My pa en die oom het Valenciawyn gedrink. Hulle het gereeld gaan dans by die oom se huis en dan het hulle die wyn gedrink. Ons kinders het saam gegaan”.

Toe hulle sê dat hulle by was met danse by Faan se huis, is die bekende foto van die Vier Transvalers aan die oudste suster gegee en net gevra of sy iemand herken. .  Sy het  dadelik gesê sy onthou die lang man regs goed [Piet Bosman]. Toe het sy Faan uitgewys en haar suster wat nie die foto kon sien nie het gesê dat een het ook ‘n viool gespeel. Op die vraag of dit ‘n gewone viool was , het sy gese :”Dit was ‘n viool wat so op die grond staan” {Bossie Bosman}. Sy het aandagtig gekyk en gesê sy herken nie die ander man nie { Frans Ebersohn}. Terwyl sy nog so kyk sê sy :”Hier staan die seuntjie se kaskarretjie wat sy Pa vir hom met ‘pram’-wiele gemaak het”.  {Links in die onderste hoek van die vol foto staan die kaskarretjie}. Haar suster Yvonne merk toe op dat sy die seuntjie eendag gestoot het in die karretjie , toe val hy af en :”Toe moer tannie Fiena my en toe kom my ma en moer haar”. [ Dit meen dat die foto by Faan se huis geneem kon gewees het en volgens Manie Bodenstein se mededeling in die oorlogsjare toe Sewes van Rensburg weg was]. Frans Ebersohn se vrou, Pannie, het meegedeel dat sy ‘n foto van die orkes geneem het met die tweede rondte opnames, toe die orkes by die Ebersohns se huis geoefen het. Of dit die bekende foto is, het sy nie gesê nie. Terloops, dit was agt snitte wat op ‘n Sondag opgeneem is en dit moes in September 1939 gewees het, volgens Pann

ie se mededeling. Die skip wat die opnames Engeland toe vervoer het, is deur ‘n Duitse duikboot gesink en dis waarom die plate nooit verskyn het nie.

Faan Harris het die laaste twintig of wat jare van sy lewe nie werklik ‘n vaste werk gehad nie, maar was ‘n jantjie-doen-alles. Dan word meegedeel dat hy vir ‘n ruk verfwerk vir ‘n onderhoudseenheid van die leër gedoen het, maar ontslaan is toe dit rugbaar geword het dat hy net een oog het. Dan verf hy weer ‘n leeu op ‘n boomstomp op ‘n huis se muur en volgende dan maak hy êrens ‘n huis se geute reg. Hierdie losstaande mededelings slaan oral op. En om alles nog meer te skakeer, het hy op sy swerftogte gegaan. Dan is hy in die Soutpansberge en volgende slaan hy by oom Boet Steyn in Potchefstroom uit en sê net : “Ek is op toer.” Boet Steyn sê Faan en die vriend wat saam met hom was, het by hulle geeët maar nooit in die huis geslaap nie. Hy vermoed Faan het dit gedoen omdat hy ‘boom’ gerook het. Hulle het onder die doringbome geslaap. Een aand het Boet Steyn saamgegaan om te kyk wat op aarde vang Faan saans in Potshefstroom aan. Faan het naby die bioskoop se ingang gaan sit en die trefferliedjies van die tyd gespeel. ‘n Groot klomp mense het in ‘n kring om hom gestaan en luister. Die bestuurder van die bioskoop kom toe uit en gee Faan vyf pond om op te hou speel en te verkas, want die mense kom nie in nie en die bioskoop moet begin. .  In 1938 het oom Boet taxi gery en dan het Faan en Sakkie Joubert na die huurmotorstaanplek gekom en dan by hom ingeklim, Faan voor en Sakkie agter . Faan het dan die konstina gevat en gesit en speel.  Kom daar kliënte dan het hulle uitgeklim en gewag tot hy terugkom. Van die ander bestuurders het dan gesê hulle moet by hulle inklim en daar wag tot oom Boet terugkom. Faan wou dit egter nooit doen nie. Die staanplek was voor Kings Hotel.  As Faan so speel dan probeer oom Boet kyk hoe druk Faan die akkoorde, dan sê Faan vir hom : “Boetie , jy moet hom soek , jy kan hom nie copy nie”. Sekere wysies, het Faan vir hom gesê, kan hy maar speel want hy het hulle nie “rikord” nie.  Elke Saterdag het Faan, as hy in Potchefstroom was, rubberverf gevat en oom Boet se kar se ‘witwalle’ van die bande netjies geverf. Oom Boet het vir hom gesê dit is nie nodig nie en dan het Faan net gesê : “ Ek moet vir jou ook iets doen “.

Panie Ebersohn , wat Faan baie goed geken het, het nog ‘n klompie interessante feite meegedeel. Faan was skraal gebou, baie opgeruimd en grappig. Hy het buitengewoon groot hande en dik vingers vir sy liggaamsbou gehad [Boet Steyn]. Lank voor die tyd van die Vier Transvalers het hy sy linkeroog verloor. Sy vrou het hom, ‘uit jaloesie’, met ‘n koppie gegooi en ‘n stuk glas het in sy oog gespat en dit gesny dat soveel vog verlore gegaan het dat hy uiteindelik die oog verloor het. Oom Boet Steyn het ook bevestig dat Faan vir hom gesê het dat sy vrou sy oog met ‘n koppie uitgegooi het. Frans en Pannie het Faan teen die einde van die negentienveertigs in Johannesburg raakgeloop en toe sê Faan , hy is weer getroud met ‘n mev.Wheeler,  ‘n mynkaptein se vrou. Pannie sê verder Faan het konsertina, kitaar, klavier en traporrel gespeel.

Oom Boet Steyn het vertel dat jy Faan vandag met netjiese klere aan sien en volgende week as jy hom weer sien, is dit maar net weer ‘n paar stukkies verslete klere. Vandag het hy ‘n nuwe konsertina by hom en as jy hom weer sien, wil hy joune leen, want syne is verpand.

Die laaste maande van sy lewe was hy ‘n vereensaamde en sukkelende mens. So ongeveer die dertiende Maart 1950 is hy op die hoek van Human- en Munsiestraat, Krugersdorp, onder sinkplate wat skuins teen ‘n motorhuis gesit is as skuiling, aan longontsteking dood. Hy is in ‘n armmansgraf in die Sterkfonteinbegraafplaas te Krugersdorp begrawe. Hiermee het die lewe van ‘n besonders eienaardige mens maar hoogs begaafde musikant, eintlik tragies ten einde geloop.

Die Tradisionele Boeremusiekklub het in die negentientagtigs ‘n gedenksteen op sy graf opgerig.

Vyf Dagbrekers

jongsilverdelange silver1954 silversegraf
 Jong Silwer de Lange  Silwer 1954 Bobby Pennells by Silwer se graf

Die orkes het soos hulle naam aandui, uit vyf lede bestaan. Die leier en konsertinaspeler was Silwer de Lange.  Daar was gewoonlik twee kitaarspelers, Gert [Kleinboet] de Lange, Silwer se broer en Wakkie van Biljon. Die klavier is deur Pie [Bekkie] du Plooy bespeel en die banjospeler was Bobby Pennells. Dit is heel waarskynlik dat die orkeslede, met die uitsondering van Bobby Pennells, saam in Vrededorp grootgeword het en van jongsaf saam gespeel het in die De Langes se buitekamer. Die feit dat almal byname het, dui sterk in die rigting.

Silwer de Lange, kan met reg gesê word, het die volmaakte in sy en die orkes se musiek nagestrewe. Net die allerbeste was deurgaans aanvaarbaar. Silwer het dan ook nougeset toegesien dat elke instrument presies ingestel was en dat die orkes die ritme meedoënloos korrek gespeel het. Wanneer die orkes so gespeel het dat Silwer dit as goed beskou het, het Silwer sy oë toegemaak met ‘n breë glimlag op sy gesig, deel Bobby Pennells ons mee. Die orkeslede het ook respek vir mekaar as musikante gehad en het in ieder geval geweet elkeen gee net sy allerbeste onder Silwer se leiding. Naas die konsertina het Silwer ook die kitaar netjies bespeel en was nie dom met ‘n banjo nie. Hy kon waardevolle leiding aan sy medespelers gee.

Dit val op hoeveel orkeste vandag nog steeds die Vyf Dagbrekers se musiek speel en hoeveel opnames daarvan gemaak word, met wisselende sukses. Maar dit val ook op dat die musiekstukke waar meester Silwer en sy orkes self die pedaal wegtrap, daardie musiek met rus gelaat word en ‘n mens wag tevergeefs vir ‘n vars opname. ‘n Snit soos Tant Trys-polka is moontlik laas deur Silwer in 1932 vir opname aangebied en daarna nog nooit weer nie. Silwer en oom Pietie Prinsloo het mekaar geken en miskien het hy die musiek by oom Pietie opgetel en toe meer daarvan gemaak as net om Pietie Prinsloo na te speel.

Die waarde van die Vyf Dagbrekers lê ook daarin dat hulle die musiek wat die Vrededorpers van oral af saamgebring het, so gevat op plaat gesit het, naas hulle eie bydraes.

Silwer de Lange

silver1932

Silwer de Lange, 1932

Anton Goosen het ‘n liriek vir die Vyf Dagbrekers se wysie “Kom laat ons dans-vastrap” geskrywe en dit Silwer de Lange genoem. Die lied het Silwer ver buite die grense van die gewone aanhangers van tradisionele boeremusiek bekend gestel en emosies en feite oor sy lewe deurgegee soos net ‘n kunstenaar dit kan doen. Maar wat weet ons van die mens Johannes Petrus de Lange van Vrededorp?

Hans, soos sy medemusikante en van sy mense hom genoem het, is op 14 Julie 1904 in Vrededorp gebore as die oudste van elf kinders. Daar was ook twee stiefkinders in die huisgesin. Die De Langes het ook nie ontkom aan van die tragedies wat hulle na die Tweede Vryheidsoorlog afgespeel het nie. Toe sy pa na die Oorlog by die huis kom, moet hy hoor dat sy vrou ‘n kind by ‘n khaki het en hulle is toe geskei. In 1903 is hy weer getroud  en Silwer was die eerste kind. Twee van die kinders is jonk oorlede. Maar die lewe was nie maklik nie en Vrededorp was die arm mense se plek en tog kon die arm mense goedkoop in die plek lewe, soos sy een suster dit stel. ‘n Ander suster sê weer : ”Die jare in Vrededorp het niemand veel gehad nie, almal was maar arm. Die mense was egter mededeelsaam, hulpvaardig en vrolik.” Die belangrike was egter dat die kinders kon skoolgaan, hulle bassies was toe en die magies was merendeel vol.

Toe Silwer opgeskote begin raak, kon sy ouers dit bybring om ‘n  serfyn, kitaar en konsertina te koop vir die kinders om op te speel, soos hulle dit gestel het. Silwer was nog maar jonk toe hy en sy maats Saterdae as hulle pligte afgehandel was, in die buitekamer geoefen en musiek gemaak het. Interessant is dat die een suster reken hulle ouers het nie musiekaanleg gehad nie, maar van die kinders wel. Nouja, die De Langes was maar arm, maar gelukkig en vrolik. Dit is hoe die lewe in Vrededorp verloop het.

Silwer se eerste groot krisis het gekom toe hy smoorverlief raak op ‘n jongmeisie wat egter nie dieselfde oor hom gevoel het nie. Kobie het hom van die hand gewys en in die huwelik getree met ene Burger en in Mentzstraat, Booysens gaan woon. Hierdie liefdesteleurstelling het Silwer ‘n knou toegedien wat hy lank saam met hom gedra het. Hy is later met ‘n geskeide vrou, Francis, met ‘n seun uit haar vorige huwelik, getroud. Kort na hulle troue, toe Silwer by die mark gewerk het, tref die tweede ramp hom. Francis was ‘n hartlyer maar het dit vir Silwer weggesteek. Toe hy een middag van die werk af kom, kry hy Francis dood op die bed. Hierna is hy nooit weer getroud nie en het slegs vriendinne gehad. Hy het ook nie by een werk gebly nie maar in sy lewe behalwe by die mark ook by die slagpale en Price’s Candle Factory gewerk. Hy het soms los en vas gewerk maar die musiekonderrig wat hy gegee het, was vir hom ‘n saak van erns.

Sy susters deel mee dat Silwer glad nie musiek kon  lees nie en dat hy geheel en al op gehoor gespeel het. Silver was ook ‘n baie netjiese mens op sy persoon en sy netjies versorgde naels het ‘n mens altyd opgeval . Hy het sy sokkies self gestop en sy klere self gestryk . Sy een suster, mev. Donaldson, het by navraag oor Silwer se gewoontes gesê : “Hy het bietjie gedop en as hy by danse gespeel het , het hy bietjie meer gedop” .

Dit is altyd goed om na ‘n meester se leerlinge te luister as hulle oor hom praat. Volgens twee van sy musiekleerlinge , Koos van Rensburg – Sewes van Rensburg se seun – en Jan Nel , wat konsertina by Silwer leer speel het , was Silwer ‘n stil en aangename persoon wat altyd hoflik en korrek opgetree het . Afgesien van sy vermoë as konsertinaspeler , het hulle die grootste respek vir hom as persoon gehad. Hy was nie net ‘n leermeester nie, maar het ook vir hulle ‘n voorbeeld gestel. Hulle bevestig ook dat sy musiekonderrig vir hom ‘n saak van erns was. ‘n Ander baie bekende musiekleerling van Silwer was natuurlik Dawid de Lange. Wat hy oor sy leermeester te sê gehad het, weet ons nie, maar dat hy heelwat by hom geleer het, hoor mens aan Dawid se konsertinaspel.

Dit is reeds genoem dat Vrededorp se mense arm maar vrolik was. Silwer het ook sy bydrae tot die vrolikheid gemaak. Mev. Van Eden, sy suster, sê met feesgeleenthede soos 5 November – Gekkedag – en nuwejaar, het Silwer op ‘n groot perdekar gesit en konsertina speel en die mense het op die sementblokke van die sypaadjie gedans. Daar is ook verskeie berigte van sy optredes by danse en ander vermaaklikhede. Hy het selfs by die Krugerdorpse Gevangenis opgetree en het met ‘n Crabbkonsertina gespeel. En soms het die man wat so gesteld was op korrektheid met instrumente en musiek maak, hom ook bietjie ‘stuitigheid’ veroorloof. Pannie Ebersohn, wat Silwer goed geken het en by wie hy redelik gereeld aan huis gekom het, sê hy kon die Shannonwals speel soos niemand anders nie. En as hy die  Shannonwals gespeel het, het hy gestaan en die konsertina geswaai. Dit is regtig iets besonders as ‘n mens na Gerrie Snyman luister as hy sê : “Silwer het nie geglo ‘n konsertina moet oopgetrek word nie, hyself het sy konsertina so bymekaar gehou en die mooiste klanke daaruit gekry”. En dan dink hy diep en sê : “Silwer was die beste speler van almal wat ek geken het”. So terloops, geoordeel aan speelstyl, was Silwer die enigste van die konsertinaspelers wat in 1932 opnames gemaak het, wat nooit boerekonsertina gespeel het nie.

Silwer se vermoë as konsertinaspeler het verder gestrek as net Vrededorp of Suid-Afrika. Bobby Pennells het met die onthulling van Silwer se grafsteen, vertel dat die vervaardigers van die Wheatstonekonsertinas in Engeland, beplan het om die konsertinas te herontwerp om by die veranderde behoeftes aan te pas, dit was waarskynlik in die negentiendertigs. Hulle het toe met Silwer kontak gemaak en gevra of hy bereid sou wees om Engeland toe te kom en met die herontwerp en aanpassings te help. Waarskynlik het die Tweede Wêreldoorlog en veranderinge op die konsertinamark , die beplande herontwerp skipbreuk laat ly en dit is nooit deurgevoer nie. Maar dit sê tog baie van ‘n  konsertinaspeler in ‘n armmansbuurt soos Vrededorp, wat nie eers note kan lees nie, se vermoë dat hy deur die gesoute vervaardigers van Wheatstone gevra word om te kom hulp verleen met die herontwerp van hulle wêreldbekende konsertina.

Silwer het later in Haystraat in Ophirton gaan woon en die laaste deel van sy lewe het hy by mense in Kenilworth se omgewing geloseer. ‘n Los stukkie inligting is dat daar ‘n Joubert naby Silwer gewoon het wat hy Kierieboud genoem het. Daarmee weet ons dan ook waar ‘n stuk van sy musiek aan sy naam gekom het.

Hy het die ander musikante  en sangers van sy tyd goed geken en hulle was redelik gereeld met kuiergeleenthede saam. Pietie Prinsloo,  Sampie Viljoen, Faan Harris,  Dawid de Lange, Gerrie Snyman, Chris Blignaut en andere het saam gekuier en seker saam gespeel. Almal van hulle was ook terdeë bewus van sy begaafdheid as musikant. Silwer se suster, mev. Donaldson, sê egter dat die laaste paar jaar het Silwer en Faan Harris nie meer om een vuur gesit nie. Dit het gekom toe Faan dit kwytgeraak het dat Silwer nie goed genoeg speel om saam met hom te speel nie. ‘n Ander bron bevestig ook dat Faan in die laaste jaar of twee van sy lewe, toe sy saak reeds besig was om vinnig uit te rafel, daarmee behep was dat hy nog die beste konsertinaspeler sou wees.

 Op 18 Desember 1956 het die einde onverwags vir Silwer gekom. Sy broer Jan het meegedeel dat gesê is dat hy aan beroerte dood is . ‘n Ander bron het egter berig dat Silwer die middag van sy dood saam met mense in ‘n ligte luim in ‘n straat was, sy voet het op iets gegly en hy het met sy agterkop die straat se randsteen getref . Hy is gehelp om by die huis te kom en daar is hy later dood aangetref. Hy is waarskynlik weens breinbloeding dood . Die man van Vrededorp se konsertina het skielik stil geword.

Silwer is in die Wesparkbegraafplaas in Johannesburg in ‘n armmansgraf  te ruste gelê. Die Tradisionele Boeremusiekklub het, nadat Jimmy Henning Silwer sy graf opgespoor het, ‘n gedenksteen laat oprig en dit is op 19 Oktober 1985 onthul.

En nou dat die gordyn gesak het oor die lewe van die konsertinaspeler van Vrededorp, wat is daar om nog oor hom as musikant te sê, wat sy musiek en ander mense nie reeds gesê het nie?

Vier Hugenote

Die Vier Hugenote was ‘n orkes wat baie op die orkeste van die verlede getrek het en was dit nie vir tant Lettie Palm se klavier nie, was dit die orkes bestaande uit die konsertina en kitare soos in die pionierstydperk, op afgeleë plase, voorgekom het. Die orkes se musiek is statig maar pragtig in sy eenvoud. Om dit na te speel, vra egter ‘n goeie tegniese vermoë en aanvoeling vir korrekte vertolking. Daar is iets eie aan die Vier Hugenote se musiek  waarop ‘n mens mettergaan verlief  raak en dit word pragtiger soos die musiek sy lê op jou ore kry.

Die leier en konsertinaspeler van die Vier Hugenote was oom Willie Palm en sy vrou, tant Lettie Palm, het die klavier bespeel. Dan het die twee Vermaaks, Pietie en Alec, die kitare aan die loop gehou. Kort en kragtig, ‘n man en vrou en twee broers. Die musiek wat hulle gespeel het, kom verseker oorwegend uit die Ficksburg se wêreld waar oom Willie se ouers gewoon het en hy gebore is. Musiek met ‘n aansteeklike hartklop. Hierdie musiek is ‘n kosbare toevoeging tot ons musiekskat en dit is verblydend dat van hulle musiek nog steeds gespeel word.

Toe oom Willie en tant Lettie al gryskoppe was en die Vermaakbroers al oorlede was, het hulle langspeelplaat   “ Die Vier Hugenote speel weer” op die mark gekom. Hier was dit nou die geval van konsertina en kitare. Oom Willie het die konsertina gespeel en tant Lettie en Gerrie Bezuidenhout, het die  twee kitare laat dreun. Die driemanskap bied  hier weereens ongekunstelde maar veelseggende eenvoud aan.

Die Vier Hugenote en veral oom Willie en tant Lettie se musiek, sê iets van musiekmaak soos dit vir baie lank die enigste moontlike manier was. Eenvoudig maar treffend.

Willie en Lettie Palm

willielettiepalmOom Willie en tant Lettie Palm

Van oom Willie en tant Lettie Palm se lewe is daar nie veel bekend nie. Oom Willie is in 1894 in Ficksburg gebore en het sy eerste paar lewensjare daar deurgebring. Hy was nog maar klein toe sy ouers na Boksburg toe getrek het. Hier in Boksburg het oom Willie dwarsdeur sy lewe gebly. Na skool het hy by die myn gaan werk en so tussen alles deur het hy van sy sewentiende jaar af musiekinstrumente leer speel. Eers die konsertina en toe het die kitaar, traporrel en basviool gevolg. Hy ontmoet toe ‘n jong dame wat ook behendig met die musiekinstrumente was, tant Lettie. Sy het naas die klavier ook die kitaar onder die knie gehad. Die twee jongmense het pragtig saam musiek gemaak en is toe later, in 1916, ook getroud. Die Vermaaks, Alec en Pietie, twee kitaarspelers, sluit toe by die Palms aan en so ontstaan die Vier Hugenote wat vir soveel jare musiek in Boksburg gemaak het. Die Palms en Vermaaks was rustige en standvastige mense en dit skemer ook in hulle musiek deur.

Ses Hartbrekers

Die  Ses Hartbrekers het ook twee leiers gehad, nl. Sampie Viljoen, die konsertinaspeler en Gerrie Snyman, die klavierspeler. Dan het Berthie Wynn die banjo gespeel en Piet Ungerer die kitaar. Nie een van die ander orkeste wat in 1932 opnames gemaak het, het soos die Ses Hartbrekers van ‘n basviool en ‘n trom gebruik gemaak nie. 

Jannie Ungerer het die basviool gespeel en Gus Matthews die trom. Luister ‘n mens na die musiek van die Ses Hartbrekers met ‘n oor wat gewoond is aan tradisionele boeremusiek, dan val hulle musiek sommer met die intrapslag nie maklik op die oor nie. By nadenke en ontleding van die omstandighede wat met die opnames in 1932 geheers het, word die prentjie dan duideliker.

Gerrie Snyman het sedert 1925 ‘n orkes gehad wat gereeld in die “Labour Party Club”,h/v Harrison- en Kerkstrate, Johannesburg, opgetree het. Hierdie orkes het uit dieselfde musikante as die Ses Hartbrekers bestaan met die uitsondering van Sampie Viljoen. Toe die geleentheid opduik om boeremusiek te laat opneem, word Sampie Viljoen by Gerrie Snyman se orkes gevoeg, om aan die vereistes van die platemaatskappy te voldoen, en ‘n geleentheidsorkes ontstaan wat Chris Blignaut die Ses Hartbrekers gedoop het. Gerrie Snyman se orkes het oorwegend na die behoefte, modemusiek in die “Labour Party Club” gespeel. Die samestelling van die instrumente in sy orkes, met ‘n basviool en tromme, dui verder op die modegerigtheid van die orkes vir byna sewe jaar. Nou word skielik in 1932 van die orkes verwag om Sampie Viljoen te begelei, wat musiek uit die hart van die tradisionele boeremusiekskat speel. Sampie Viljoen was ‘n blinkgepoetste konsertinaspeler met ‘n egte en siuwer tradisionele aanslag. Dit spreek nou eintlik vanself dat die Ses Hartbrekers se musiek ‘n gesplete persoonlikheid  sou hê. Goeie musikante uit verskillende musiektipes kan nie net saamgevoeg word en dadelik vind kohesie plaas in die vertolking van ‘n ander musiektipe nie. Dit is waarskynlik die rede waarom die Ses Hartbrekers se musiek ongemaklik op die tradisionele boeremusiekoor val.

Die feit dat soveel van die musiek van die Ses Hartbrekers nog steeds en gereeld op die tradisionele musiekspyskaarte verskyn, is net aan Sampie Viljoen se goeie spel en besondere musiek te danke. Luister ‘n mens toegespits net na die konsertina in die Ses Hartbrekers se musiek, dan straal dit uitstaande konsertinaspel deur ‘n meester uit.

Sampie Viljoen

Samuel Viljoen is die duisterste musikant van die groep wat by die 1932-opnames betrokke was. Weinig is van hom bekend en daar is geen foto van hom beskikbaar nie. Pogings om iemand op te spoor wat iets van hom en sy lewe weet, het tot nou toe op niks uitgeloop nie. Al wat beskikbaar is, is los uitsprake en bewerings.

Gerrie Snyman het in ‘n onderhoud gesê : “Sampie het in Ophirton gewoon en het die mooiste wysies geken en gespeel. Sampie was ‘n baie goeie konsertinaspeler!”. Daar is beweer dat hy ‘n trembestuurder was. In ‘n onderhoud met Jan Harmse van Tweedestraat 48, Albertskroon in 2005, het hy gesê dat hy ook destyds gehoor het dat Sampie Viljoen op ‘n bankie by ‘n tremhalte in Booysens oorlede is. Dan was daar nog die bewering dat Sampie met Gerrie Snyman se suster getroud was. Dit is al wat van Sampie bekend is of beweer word. Verder kan ‘n mens maar net afleidings maak van wat op die plate te hore is.

Iets waaroor daar darem nie twyfel bestaan nie is dat Sampie Viljoen ‘n uitstaande konsertinaspeler was, een van die bestes van sy tyd.

Baanbrekers

Die Baanbrekers was ‘n trio wat ‘n geleentheidsorkes vir plaatopnames gevorm het.  Die leier en konsertinaspeler was Josef [Joe] Hooneberg en hy is bygestaan deur Dan Scholtz as banjospeler en Rupert [Rup] Meyer as kitaarspeler. Joe het anders as die meeste ander konsertinaspelers, ‘n 4ry “English”-konsertina gespeel. Uit Joe se speelwyse is dit merkbaar dat hy of formele musiekopleiding gehad het of homself goed touwys gemaak het uit musiekboeke uit Engeland. Hy was in ieder geval ‘n hoogs bedrewe musikant wat die musiek wat hy gespeel het uitstekend vertolk het. Rupert Meyer en Dan Scholtz was self skerp musikante wie se spel soos ‘n handskoen gepas het by die musiek wat Joe gespeel het. Hulle vermoë om met die kitaar en banjo te begelei en dan weer tweede stem te speel in volkome harmonie, bly ‘n besondere kenmerk van die orkes. So in die speel vleg Rup en Dan die mooiste borduurwerk in en komplimenteer Joe se konsertinaspel. Vir al drie hierdie musikante was dit erns om musiek in die korrekte styl en met die regte aanslag aan te bied. Al drie instrumente het mekaar eintlik deurentyd aangevul en ondersteun in ‘n gesonde balans. Hierdie trio was toegewyde musikante wat hulle musiek geken en verstaan het.

Al drie van hulle het gereeld musiek gemaak en soms met ander geleenthede het Rup ook saam met Joe gespeel. Dan Scholtz het aan die begin van die negentiendertigs, toe hy by die Landbank in Pretoria begin werk het, Joe en Rupert, wat mekaar goed geken het, ontmoet. Dadelik het hulle aanklank by mekaar gevind omdat al drie puntenerige presiesheid in hulle musiek voorgestaan het. Ongelukkig het hulle werksomstandigheid hulle verhinder om gereeld saam te speel, maar as opnames gemaak moes word, het hulle saamgestaan.

Heelwat musikante in Pretoria het van 1920 af, toe Joe sy eerste orkes gestig het, op een of ander tydstip saam met hom gespeel en in die proses heelwat van goeie musiek geleer. Fanie Bosch het as opgeskote seun kitaar saam met Joe Hooneberg gespeel. Die musiek wat die Baanbrekers vir die plaatopnames gespeel het, was in die Moot in die Magaliesberge en in Pretoria, goed bekend. Joe het dit vir baie jare gespeel. Maar ongelukkig het sommige musikante van die musiek later ‘n ander naam gegee en dit onder hulle naam ingeskuif. Hoekom dit gedoen is, weet ‘n mens nie, want dit verg nie veel om Joe Hooneberg se musiek dadelik uit te ken nie. Sy musiek is te besonders en eiesoortig om dit mis te hoor. Maar nouja, die musiek leef voort, watter naam dit nou ookal het. Sommige verlore seuns kom darem terug en kry weer hulle eie name.

Die Baanbrekers se musiek sal altyd ‘n juweel in ons musiekskat bly.

Joe Hooneberg

joe1 joe2 joe3
Jong Joe Hooneberg Joe Hooneberg 1938   Joe en Maria se graf

Josef  Hooneberg is volgens Piet Bester se Gedenkboek op 10 November 1877 gebore, maar op sy grafsteen word dit as 1879 aangegee. Hy is volgens ‘n CD se begeleidingsbiljet wat Kalie de Jager opgestel het, in Vrede in die Vrystaat gebore. Sy ouers verhuis later na Bloemfontein en Joe voltooi sy skoolloopbaan aan Grey Kollege. Die personeel van Grey Kollege kon egter geen bevestiging daarvoor in hulle rekords vind nie. Na skool vertrek Joe Pretoria toe en het in Pretoria gebly tot met sy dood op 2 Junie 1940.

‘n Jaar of wat na die Tweede Vryheidsoorlog is hy getroud met Maria Magdalena Labuschagne [28 April 1883] en hulle het minstens drie kinders gehad. Op 4 Oktober 1926 is Maria egter oorlede en Joe is later weer getroud.

Joe was ‘n gedissiplineerde en hardwerkende mens wat eintlik pynlik netjies was. Hy het as messelaar selfs met ‘n das gewerk. Sy goeie maniere was ook ‘n kenmerk van sy lewe. Hy het ook na sy fiksheid omgesien en graag met sy resiesfiets rondgery of saam met sy en ander seuns in die straat sokker gespeel. Hy het ‘n liefde vir gewere gehad en het graag gaan jag as hy die geleentheid gehad het. Maar naas sy vrou en kinders, wat hom na aan die hart gelê het, en sy werk, was sy musiek die groot liefde in sy lewe. Sy een seun het selfs die gevoel gehad dat sy pa hulle as kinders afgeskeep het, om by sy musiek uit te kom.

Behalwe die konsertina was Joe ook goed geletterd met die orrel, banjo en klavier, maar sy lieflingsinstrument was sy 4ry.

Joe Hooneberg het netjies gelewe, musiek uiters netjies gemaak en oor ‘n baie besondere vaardigheid en aanslag beskik. Verdere woorde is oorbodig, luister net na sy musiek!

Lydenburg vastrappers

Hierdie orkes kan eintlik ‘n familieorkes genoem word, wat uit twee neefs, hulle niggie en haar man bestaan het.

Chris Chomse was die leier en konsertinaspeler van die orkes. Klaas Erasmus het die klarinet gespeel, Baba Winterbach die klavier en haar man Chris Winterbach, die kitaar. Die uitstaande kenmerk van die orkes is dat hulle van ‘n klarinet in hulle musiek gebruik gemaak het. Daar is getuienis dat iemand met die Groot Trek ‘n klarinet gespeel het. Kan dit miskien wees dat die musikant uiteindelik in Lydenburg beland het en die “klarinetkultuur” daar gevestig het? Later in die negentiendertigs het Willie Welgens se Suikerbossieorkes ook van ‘n klarinet gebruik gemaak. Maar terug na die Lydenburgvastrappers toe. Die orkes het goeie musiek in ‘n vloeiende styl gespeel. Die feit dat Chris Chomse se pa ‘n Duitse immigrant was, verklaar miskien waarom hulle musiek so ‘n Duitse geursel het. Die orkes se musiek staan ook eintlik los en oorvleuel nie met die musiek van die ander orkeste wat in dieselfde tydspan opnames gemaak het nie. Dit is sover nie bekend of Chris se pa of ma musiek gemaak het nie, maar êrens in sy jong lewe moes hy skouers geskuur het met iemand wat musiek verstaan het. Die wyse waarop die orkes se verskillende instrumente so netjies saamvloei, sê ook dat Chris of een van die ander orkeslede, genoeg van orkeswerk moes geweet het of goeie aanvoeling daarvoor moes gehad het. Hulle was eenkant in Lydenburg, weg van die saamkuiers van die musikante in Johannesburg en Pretoria se omgewing en op hulleself aangewese. Waar hulle musiek se oorsprong lê, is ook nie duidelik nie. Was die musiek in Lydenburg se wêreld bekend of het die orkeslede dit self voortgebring? Hoe die saak nou ookal lê, hulle musiek is ‘n waardevolle bydrae tot ons musiekskat en gee vandag nog aan baie liefhebbers en musikante plesier. 

Chris Chomse

chris1 chris2 chris3
Chris Chomse   Chris en Baba Winterbach  Klaas Erasmus en sy vrou

Piet Bester kon nog by kinders en familie van die orkeslede gegewens oor hulle lewens inwin. Alhoewel Chris Chomse se pa van geboorte Duits was, was Chris, wat hier grootgeword het, ‘n “Boer” in murg en been. Maar in 1938 vertrek hy saam Kenia toe en is in 1947 daar oorlede en te Eldoret begrawe.

Klaas Erasmus is op 3 Julie 1902 op die plaas Grootboom naby Lydenburg gebore as seun van die bekende Abel Erasmus. Na matriek bekwaam hy hom as onderwyser aan die Universiteit van Stellenbosch, maar gaan boer daarna saam met sy pa. Ongelukkig is hy  in die fleur van sy lewe aan die einde van 1934 oorlede. Klaas en Hendrik Susan was goeie vriende.

Chris en Baba Winterbach het ‘n goeie lewenspan gehad. Chris is op 2 September 1891 te Lydenburg gebore en op 21 Junie 1978 daar oorlede en begrawe. Baba is ook ‘n gebore Lydenburger, wat op 23 April 1899 die eerste lewenslig gesien het en is op 17 April 1960 in Pretoria oorlede en in Lydenburg begrawe.

Die Tradisionele Boeremusiekklub het ‘n gedenksteen vir die Lydenburgvastrappers opgerig wat op 1 Maart 1986 in Lydenburg onthul is.

Kerrie en Ricardo Bornman

kerrierichardo

Oom Kerrie en Ricardo Bornman

Die naam oom Kerrie het in die gebruikstaal eintlik Regardo Bornman se eerste naam geword. Praat ‘n mens van Regardo Bornman, dan is die vraag gewoonlik : ”Praat jy van oom Kerrie?”.  Hierdie man, wie se lewe so netjies aan die kant is, het saam met sy medelandgenote, die baie moeilike jare van na die Tweede Vryheidsoorlog tot die Tweede Wêreldoorlog, deurleef. Lewensmiddele was skaars en almal was arm en moes bitter hard werk om te oorleef.

In die reeks “So het hulle gespeel” is ook ‘n CD met oom Kerrie se musiek uitgegee en die begeleidingsboekie gee waardevolle inligting oor sy lewe, naas die inligting in Piet Bester se Gedenkboek. Oom Kerrie is op 11 Maart 1891 by De Deur naby Vereeniging gebore. Hy was die tweede jongste van Johannes Christiaan Frederick Bornman en Regina Bregrida Wilbach se ses kinders. Die Bornmans het die volle geweld van die Tweede Vryheisoorlog beleef. Johannes en sy oudste seun, Fritz, is gevange geneem en as krygsgevangenes Ceylon toe gestuur. Hulle plaas is afgebrand en alles is deur die Engelse vernietig. Oom Kerrie is saam met sy ma en die ander kinders na die konsentrasiekamp by Heilbron geneem. Na die Oorlog het die Bornmans teruggekeer na ‘n plaas met net murasies op en die stryd om oorlewing het begin. Verstommend genoeg ontdek hulle in die as in die vuurherd hulle familiebybel met net enkele skroeimerke, dit was hulle enigste oorgeblewe besitting behalwe die plaas.

Oom Kerrie stam uit ‘n musikale familie. Musiek maak was vir die Bornmanfamilie ‘n lewenswyse tussen al die beproewings deur. Sy oupa, sy pa en sy oom Tien was almal konsertinaspelers.  Die Bornmanfamilie het dus van nie lank na die Groot Trek nie, vir meer as ‘n eeu musiek gemaak. Die smaak en ontwikkeling van Afrikaanse volksmusiek was deel van hulle lewe en hulle het daartoe bygedra. Oom Kerrie se broers en susters het ook musiek gemaak.  Sy broers Fritz en Krisjan het konsertina en kitaar gespeel en Dolf het by die kitaar berus. Sy oudste suster, Poppie, het traporrel gespeel en om die kroon te span, is sy en die ander suster, Kotie, met twee Christiebroers getroud wat skerp vioolspelers was. Die tafel was gou gedek vir ‘n familieorkes om te ontstaan met soveel talent onder een dak. Tussen alles deur het die jong Kerrie sy broer se konsertina sonder toestemming gebruik om te leer speel. Toe dit op die lappe kom, het sy broer hom touwys gemaak en goed in die kultuur ingelyf. Klein Kerrie het die stang vasgebyt en nooit weer omgekyk nie. Op veertienjarige ouderdom het sy besondere musiektalent reeds begin deurskemer, toe hy die toon begin aangee het in hulle familieorkes. Hy het ook gou aangeleer om die traporrel, kitaar, banjo, mondfluitjie en ander instrumente te bespeel. Om musiek te maak was vir hom iets natuurliks en gewoon. As boerekonsertinaspeler en as vertolker van sy mense se musiek, was oom Kerrie inderdaad in ‘n klas van sy eie. Die diepte van sy familietradisie en talent spreek vanself.

Reeds van 1904 af tot 1908 het oom Kerrie en sy twee swaers, die Christies, gereeld by Wolwehoek naby Sasolburg by danse gespeel. Selfs die Britse soldate wat nog in die land was , was bewus van die jongman se vermoë om die lansers en kadriele te speel en het van sy orkes gebruik gemaak met hulle funksies.

In hierdie tydperk het ‘n orkes gewoonweg uit ‘n boerekonsertina, traporrel, viool en kitaar bestaan. Dit is eers in die negentientwintigs wat die Engelse konsertina sy intrek in boereorkeste geneem het. Die boerekonsertinas wat te koop was, was maar ‘goedkoop’ en kort van duur. Die mense was arm en dit het soms saamstaan gekos om die sewe sjielings en ses pennis of tien sjielings bymekaar te kry vir die konsertina vir die dans of funksie. Die konsertina het nie ‘n aand oorleef nie en so ‘n ent in die aand in is begin om sakdoeke om die pens te bind om die gaatjies in die papier effens toe te hou en na die laaste dans is die konsertina op die knie of bokant die kop in twee geskeur. Teen die tyd het die ‘saterdagaandjie’, soos die konsertinas genoem is, al soos ‘n pofadder geblaas.

Die depressiejare het oom Kerrie gedwing om uit te spring en aan die spoorlyn tussen Parys en Dover te help bou om sy gesin te versorg want hy is in sy laat dertigs eers, in 1929, getroud met Johanna Christina Britz, ‘n weduwee met ‘n dogter, Lulu. Hier in Parys het die sinkhuisies in rye langs die spoor gestaan as nagskuiling vir die werkers. Dit is ook hier waar die komponis in oom Kerrie goed wakker geword het, met die lang eensame nagte net met sy konsertina as geselskap.  Ou Parys-polka word onder andere gebore en sy broer Chrisjan voeg woorde by.

Oom Kerrie en sy vrou het drie seuns gehad, Johannes, Ricardo en ‘n seuntjie wat net ‘n paar maande geleef het. Ricardo het later wye bekendheid vir sy kitaarspel verwerf.

Na Parys vertrek oom Kerrie na die diamantvelde by Bakerville, naby Lichtenbrg, in ‘n poging om lewensmiddele vir sy gesin te vind. Hier op die diamantveld het hy musiek gehoor wat hy nie geken het nie en het hy ook nuwe musiek van sy eie voortgebring. Die musiekpot het al voller geword met die kosbaarhede wat hy later op plaat vir ons sou nalaat.

In 1934 tref ‘n groot ramp oom Kerrie. Terwyl hy op sy fiets ry, tref ‘n vragmotor hom van agter en hy word bewusteloos die veld in geslinger met baie beserings, maar veral ‘n gebreekte been wat uit die potjie geruk is. Vir ure lê hy bewusteloos totdat ‘n verbyganger hom raaksien. Hy was amper ‘n jaar lank aan ‘n bed gekluister om te herstel. Na hierdie terugslag verlaat hy die diamantvelde en gaan woon in Krugersdorp waar hy werk by die munisipaliteit gekry het. Hier het oom Kerrie, soos sy aard was, getrou gewerk totdat hy afgetree het. Nou vir die eerste maal het daar kalmte en rustigheid in sy lewe gekom.

Tussen al die wegwerkery en rondswerf het oom Kerrie baie moeite gedoen om die Bornmans se familieorkes op die been te hou. Die moeilike lewensomstandighede het meegebring dat die Bormans ook uitmekaar moes gaan om ‘n bestaan te maak. Maar oom Kerrie het volhard en op tien jaar het Ricardo die kitaar en banjo in die orkes begin speel en sy skoonseun Faan Barnard, Lulu se man, het die leikitaar vir lank gespeel. Maar die vroeëre gloriejare van die Bormans se familieorkes was verby.

Dit is te verwonder dat die Bornmans se familieorkes nie deur die platemaatskappye genader is om ook opnames te maak nie of is dit net ‘n geval daarvan dat die Johannesburgers nie van hulle bewus was nie. Ons is egter baie dank aan Bosman de Kock, die omroeper en komponis, verskuldig vir sy insae en pogings om konsertinaspelers van die vorige geslag wat nog skerp is, in die negentienvyftigs op te spoor en hulle musiek op te neem. Rassie Erasmus, die bekende konsertinaspeler, het die oproep gehoor en het Ricardo, oom Kerrie se seun oortuig om oom Kerrie aan Bosman de Kock te gaan voorstel. Dit het gebeur en so stap oom Kerrie op 67 jaar by die ateljee in om sy eerste plaatopnames te maak. Hy het ook intussen ‘n Engelse konsertina aangeskaf  en in die proses ‘n paar nommers daarmee vir opname gespeel. Oom Kerrie se groot liefde was egter sy boerekonsertina en daarmee is die leeueaandeel van die opnames gespeel. Sy seun Ricardo, wat seker sy pa se musiek so goed geken het dat hy dit in sy slaap kon begelei, het dan ook oom Kerrie al te netjies begelei. Heelwat opnames is oor ‘n tydperk gemaak tot kort voor oom Kerrie se dood. Bosman de Kock verdien werklik ‘n pluimpie vir sy versiendheid en insig dat waardevolle kultuurmusiek besig is om verlore te gaan saam met die draers daarvan se afsterwe. Veral in oom Kerrie se geval was dit musiek wat die Bornmans vir geslagte deurgegee het en ook daartoe bygevoeg het. In hierdie selfde poging is ooms Gertjie Claassen, Hendrik Lotter, Hennie Vorster en Thys Smit ook opgespoor en opnames is gemaak.

Iets interessants, oom Kerrie was van oordeel dat ‘n boerekonsertina eers werklik tot sy reg kom as dit ook deur ‘n traporrel begelei word

Op 22 September 1968 is oom Kerrie Bornman oorlede aan longontsteking en is in die Sterkfonteinbegraafplaas in Krugersdorp te ruste gelê. Hy was 77 jaar oud en het vir meer as sestig jaar die musiek gemaak waarvoor hy so lief was. Luister ‘n mens na sy musiek wat opgeneem is toe hy nie meer ‘n kind was nie, dan wonder ‘n mens hoe goed moes dit geklink het toe hy in die krag van sy jare was.

Dit is moeilik om uitsprake te maak oor boerekonsertinaspelers van die verlede omdat ‘n mens hulle nooit gehoor speel het nie. Faan Harris, Pietie Prinsloo, Willie Palm, Jan Visser en Sampie Viljoen het almal boerekonsertina gespeel en baie spelers is nooit iets van opgeneem nie, daar word net van sommiges nog gepraat. Maar een ding is seker, oom Kerrie Bornman was een van die grootstes wat ooit ‘n boerekonsertina in sy hande gehad het. Sy familietradisie en uitsonderlike talent het hom in staat gestel om met die regte aanslag ons musiek eg en suiwer aan ons na te laat. Hy het op sy oudag ‘n standaard gestel wat moeilik is om na te streef.

Oom  Kerrie ons sê dankie.

Dawid de Lange

Dit is noodsaaklik om in gedagte te hou dat Dawid de Lange en die ander musikante wat ter sprake is, se optrede val in die tydperk van die depressie van 1929 – 1933 en die groot droogte van 1932 – 1933 en die hersteljare daarna. Landsomstandighede was haglik en mense het in hulle duisende na die stede toe gestroom om oorlewing. ‘n Groot gedeelte van die bevolking was bitter arm en dit was reeds dié mark waarop hulle musiek gerig was. Dit was tye van swaarkry en hongerly.

Selfs die platemaatskappye het om oorlewing gestoei en moes fyntrap om  kop bo water te hou. ‘n Groot lening is op dié tydstip deur Brunswick aangegaan om toerusting te bekom om Singerplate plaaslik te vervaardig. Eric Gallo het so te sê alles op die spel geplaas deur die stap te neem.

dawid1 dawid2 dawid3
 Dawid de Lange 1936 Dawid en Flora Naglopers, Tol, Poea en Dawid en Tol se kind 

Toe Dawid de Lange se ster in Februarie 1934 op die horison verskyn het met sy plate saam met Poea Stapelberg se Naglopers wat op die mark verskyn het, het nog hy, nog iemand anders besef hoe helder hierdie ster gaan skyn en bly skyn. Dawid de Lange was oornag ‘n bekende naam onder sy mense en sy gewildheid het soos ‘n wegholbrand versprei en toegeneem. Die Kalfiewals , Daisypolka, Liewe Goudstad-polka en vyf ander snitte was verstommend genoeg, op baie mense se kooplyste en dit het so gebly. Hierdie gebeure was te danke aan twee mense se optrede. Dit word vertel dat ‘n myner aan die Oosrand ‘n advertensie van ‘n platemaatskappy in ‘n koerant gesien het waarin kunstenaars genooi is om te kom vir oudisies met die oog op plaatopnames. Hierdie mynwerker was ‘n ‘gebore optimis’ en het toe by die platemaatskappy se ateljee in Presidentstraat ingestap en hom met die volgende woorde voorgestel :”My naam is Dawid de Lange. Ek speel konsertina en kitaar en sing ook. Ek wil graag plate maak in Afrikaans”. ‘n Jong mnr Eric Gallo het besluit om dit met Dawid te waag en die mark te toets. Min het hy besef dat hy in hierdie mynwerker sy goudmyn ontdek het. Die verkope het eenvoudig gesneeubal en later het Eric Gallo self gesê dat Dawid de Lange Gallo van ondergang gered het. ‘n Optimis en iemand met waagmoed in moeilike tye, is die onderdele van die De Lange-sukses. [Danie C Pretorius, Musieksterre van gister en vandag, Van der Walt,Pretoria, bl 60].

David Petrus de Lange is op 3 November 1905 te Macazana, distrik Stockenstrom [King William’s Town] gebore as vermoedelik die derde seun van ‘n boer David Petrus de Lange en Elzie Magdalena Hattingh. [Daar was al ‘n hele polemiek oor Dawid se eerste naam. Dit het daarom gegaan of sy naam David – Engels of Dawid –Afrikaans was. Al waarom dit David op sy geboortesertifikaat is, is dat ‘n mens Dawid in Nederlands met ‘n v en nie ‘n w skryf nie. Kyk gerus in ‘n Statebybel. Hy spreek sy naam in ieder geval self Dawid uit – luister maar na Hannetjiewals]. Na sy skooljare gaan werk hy by die Spoorweë by aMabele maar dit geval hom nie erg nie en hy kies koers na die goudmyn in Boksburg waar hy tot die einde gewerk het. Dawid het eienaardig genoeg homself as ‘n myner van beroep beskou en sy stokperdjie was om musiek te maak en te sing. Dit was in ieder geval ‘n suksesvolle stokperdjie wat net geld in die saalsakke huis toe gebring het.

Dawid het van kleinsaf  ‘n aanleg vir musiek getoon en veral die kitaar en konsertina het sy aandag getrek. Hy en sy suster Hettie het daarvan gehou om saam te sing terwyl hy met die kitaar begelei. Nadat hy hom aan die Oosrand gevestig het, het hy musieklesse by Silwer de Lange geneem om veral sy konsertinaspel te verbeter. Silwer het hom ook later vir ‘n opname of wat met die konsertina begelei.

Dawid de Lange het oor die vermoë beskik om musiek en musikante wat suksesvol sal wees op die mark, raak te sien en raak te hoor. Hy was ook oortuig daarvan dat as jy konsertinamusiek en sang by mekaar inskakel, sal dit ‘n aangename en vrolike stemming skep. Baie van die ouer mense was gewoond daaraan om saam met die konsertina te sing by danse, as dit die enigste beskikbare instrument was, om daardeur te verseker dat almal hoor en die ritme behou. Dawid het saam met twintig of wat orkeste en groepe opnames gemaak en so ‘n verskeidenheid in die musiek op sy plate aangebied wat aangenaam is. Hy het ook Cissie en Willie Cooper se musiek ontdek en groot bekendheid verleen aan “Jy is my liefling” en ander van hulle komposisies.

Dawid het in 1936 ‘n knewel van ‘n vis gevang toe hy George Abrahams[e] oorreed het om saam met hom op te tree. George kon musiek vlot lees en skryf en was toe reeds in Johannesburg van die Kaap af, omdat hy onderlê was in orkeswerk. Die jong Willie Welgens  kruis toe tegelykertyd Dawid se pad en sy talent word opgemerk. George en Willie loseer by Dawid en dit skep vir George die geleentheid om van sy kennis en ervaring oor te dra aan die twee persone wat so ‘n belangrike rol verder in sy lewe sou speel en hy in hulle s’n. ‘n Driemanskap ontstaan wat groot invloed vorentoe sou uitoefen. Sit dan Rup Meyer en Gert Naudé met hulle kitare en Dan Truter met sy klarinet en ook ander musikante by die driemanskap en die tafel is gedek vir Dawid de Lange se groot treffer – Suikerbossie. Hierdie plaat het die mark soos ‘n orkaan getref. Verkope het die hoogte ingeskiet en uiteindelik is oor die 200 000  Suikerbossieplate verkoop.  Dit is heel moontlik dat George Suikerbossie saamgebring het van die Kaap af, waar Fred Michel dit gekomponeer het. Uit hierdie spelers het Willie Welgens se Suikerbossieorkes dan ook later hoofsaaklik bestaan. Willie Welgens het self bevestig dat toe hy in Dawid se windskadu beland, hy in ‘n japtrap ‘n gemaakte musikant was, wat net verder kon gedy met sy Suikerbossieorkes. George Abrahams[e] en sy banjo se rol in hierdie vaartversnelling kan kwalik oorskat word.

Dawid het nou op die kruin van die golf gery en was die suksesvolste Afrikaanse kunstenaar van sy tyd en miskien in ‘n baie wyer tydskring as net sy tyd. Dit alles het gebeur terwyl die SAUK geweier het om sy musiek uit te saai. Sy ‘vastrapmusiek’ was een te veel vir een van ons kultuurorganisasies, wat die SAUK toe oortuig het om Dawid se musiek te vermy. Dit het die speelveld skoon gelaat vir LM Radio, wat uit Lourenço Marquis [Maputo] uitgesaai het, om daagliks ‘n program vol Dawid de Lange-musiek uit te saai.

Meer as sewentig plate van Dawid is uitgereik en soms het dit so hewig daaraan toe gegaan, dat Gallo ‘n voertuig gestuur het om hom by die werk te gaan haal vir opnames en die woorde se afronding en vertalings soms daar in die ateljee gedoen is. En op ‘n keer het Dawid woorde geskep terwyl die orkes reeds speel en die opname gemaak word. In sy geval was dit werklik so dat talent nie brieke het nie.

Dawid was ‘n skrale 19 jaar oud toe hy met Flora getroud is op 23 Desember 1924 en in Boksburg gaan woon het. Ses dogters is uit die huwelik gebore. Dawid was ‘n opgeruimde en vrolike mens met goeie maniere en ‘n besondere vermoë om met mense en veral gehore oor die weg te kom.

Dit is eienaardig dat iemand wat so baie rondbeweeg het soos Dawid, nooit ‘n bestuurslisensie bekom het nie. Hy het wel ‘n motorfiets gekoop waarmee hy en Flora rondgery het, maar ‘n kar se lisensie het hy nooit werklik by uitgekom nie. Dit nieteenstaande die feit dat Gallo op ‘n keer ‘n Grahammotor aan hom as erkenningsgeskenk gegee het nie.

Dawid de Lange was ‘n optimis en blymoedige karakter wat gepoog het om in sy musiek aangenaamheid en plesierigheid vir dié mense te skep wat die las van armoede en swaarkry daagliks aan hulle lywe gevoel het. Daarin het hy uitstekend geslaag. Maar nou was daar diegene wat in sy tyd en daarna hom wou afkam omdat hy nie ‘n goeie sangstem gehad het nie en hy sou ook glo nie goeie musiek gemaak het nie. Dawid het nie sangopleiding gehad nie, dis waar, hy sou ook nie ‘n loopbaan as operasanger nagejaag het nie, maar wie het meer volksmusiek, so tussen alles deur, aan ons deurgegee, as juis Dawid de Lange. Hierdie geredekawel oor goed en sleg tussen die aanhangers van klassieke –en kunsmusiek enersyds en volksmusiek andersyds, is so oud soos die berge, dit kom van na die Middeleeue af met ons saam en duur nog voort. In ieder geval het die goedopgeleide kunstenaars van Dawid de Lange se tyd nie die mense wat so swaar getrek het,  bereik nie en hulle kuns het ook nie ‘n boodskap gedra waarmee hulle hulle kon vereenselwig nie. Maar Dawid de Lange met sý stem en sý musiek was vir hulle ‘n wenperd, hy was een van hulle en sý musiek, was hulle musiek. Miskien was Dawid de Lange se groot sonde dat hy so suksesvol was en maar net altyd Dawid de Lange gebly het. Hy sou ook nie verskoning daarvoor gevra het dat hy Dawid de Lange was, met sy stem nie, want hy was skerp suksesvol.

Uiteindelik het Dawid se werkery in die myn op ‘n vroeë leeftyd sy tol geëis en 13 Januarie 1947 is hy op ouderdom 41 jaar oorlede. ‘n Helder ster in die Afrikaanse musiekwêreld het verskiet. Dawid de Lange was ‘n verskynsel wat nie te dikwels voorkom nie.

Vir die skat van volks- en dansmusiek wat hy nagelaat het, sal hy lank onthou word. Dit is nie toevallig dat soveel van sy musiek nog erg gewild is en nog steeds gespeel en gedans word nie.

George Abrahamse

george1 eorge2 george3
 George Abrahamse George en sy banjo  George bietjie ouer 

George  Abrahams of Abrahamse, soos hy dikwels self sy van geskryf het, is op 4 Februarie 1913 in die bekende Distrik Ses, Kaapstad, gebore en sy ouers het hom die naam Gamza Karriem gegee. Hy het self later die verhoognaam George Abrahamse gekies op voetspoor daarvan dat dit die nooiensvan van sy  Joodse ouma aan vaderskant was.  Dié verhoognaam het hy gebruik om te koets vir die politieke styl van sy tyd. Klein George het opgegroei met banjomusiek as deel van sy lewe want sy oupa aan vaderskant was ‘n vernuftige banjospeler. Aan sy oupa se knie, is hierdie klein seuntjie, wat so oorgeloop het van musiektalent, ingelyf in die kuns van banjospel. Later het hy sy oupa se banjo geërf en die grootste gedeelte van sy lewe daarop gespeel en dit uiteindelik gedaan gespeel en toe self ‘n ander een gemaak. Sy huismense het besef  dat so ‘n talentvolle kind moet meer van musiek geleer word en George het musiekonderrig ontvang. Dit was ‘n wyse besluit, want die skrander leerder kon uiteindelik  musiek vlot lees en skryf  en was onderlê in orkeswerk. Hierdie vermoëns en talent van George Abrahamse moes wyer bekend gewees het as net in Distrik Ses, want in 1936 word hy gekontrakteer om vir twee weke met die Rykstentoonstelling in Johannesburg,  te kom optree. Dit is met die geleentheid wat Dawid de Lange en George mekaar raakloop en die twee weke wat hy in Johannesburg sou wees, word toe die res van sy lewe in Johannesburg.

Vir meer as twintig jaar was George gereeld te siene by die opnameateljees van die platemaatskappye en veral by dié van Gallo, waar hy besig was om opnames te maak. Tussen al die verpligtinge deur is hy gereeld gebruik om hulp te verleen met die leidende teaters se orkeste wat in die bakke gespeel het. Hy was ook  nou betrokke by sy vriend, Sonny Groenewald, se orkes , Sonny’s Jazz Revellers. In 1940 het hy dan ook met ”No No Nanette” saam die land deurreis. Per geleentheid het hy selfs ‘n saksofoon gespeel omdat daar nie genoeg saksofoonspelers was om orals by te kom nie. George se vermoëns het van hom ‘n gesogte musikant gemaak.

Snaarinstrumente was George se groot liefde. Voor in die ry het die banjo gestaan en dan kom daarna die mandolien, die kitaar en die ukulele. Soos genoem, het hy selfs die saksofoon so goed bespeel dat hy bereid was om vir die gewone saksofoonspelers in die bres te tree as die nood hoog was. Maar hoeveel ander instrumente hy kon speel is nie van soveel belang nie, want George Abrahamse se naam is onlosmaaklik gekoppel aan banjospel. Ongelukkig het die musieksmaak later begin verskuif  en was werk nie meer so geredelik beskikbaar nie en die politieke winde wat al sterker gewaai het, het ‘n al groter demper op sy vermoë om brood vir sy familie te verdien, geplaas. Hy was ‘n handige man, wat  toe dit moes, self ‘n nuwe banjo gemaak het. Sy handigheid het hom nou goed te baat gekom en hy bekwaam homself as horlosiemaker. Hy tree as horlosiemaker in diens by Frank en Hirsch en bly daar werk tot die einde toe.

George was so vasgevang in sy menige verpligtings dat hy nooit daarby uitgekom het om ‘n langspeelplaat te maak met die banjo as soloinstrument nie.  Maar gelukkig het dit toe wel ternouernood gebeur net voor sy dood. Gallo het toe “Bobaas banjo” na sy dood uitgereik. Maar die groot bate is die magdom plate waarop sy onvergelyklike banjospel skitter. Hy was ook ‘n komponis en musiekverwerker waarvan ‘n mens kennis kan neem en veral Dawid de Lange en Willie Welgens het hierdie vermoë welig benut.

George was getroud met Rugaja en die huisgesin het met tien kinders aangegroei. Hulle was ‘n baie rustige en kalm huisgesin wat goeie maniere en bedagsaamheid hoog aangeslaan het. Hulle was ook ‘n hegte huisgesin wat vir mekaar omgegee het. Ongelukkig was George maar net 54 jaar oud toe hy op 2 Maart 1967 deur ‘n hartaanval neergevel is. Rugaja en hulle tien kinders moes nou die pad alleen verder loop.

George was bo en behalwe sy musiektalent, ‘n besondere mens. Mev Babs Welgens, Willie se vrou, het George goed geken en hy het dikwels by hulle kom besoek aflê, per geleentheid selfs daar geëet en oornag. Sy sê verder die volgende : [a]. George was om geloofsredes ‘n vegetariër en geheel onthouer, beginsels wat hy streng toegepas het. [b]. Hy was altyd geklee in ‘n pak klere en sy skoene was deurgaans blink gepoleer. [c] Hy was ‘n beskeie, bedagsame, welopgevoede en welgemanierde mens. [d]. George het nooit lelike taal gebesig nie en was altyd ‘n plesier as gas in jou huis. Hansie van Loggerenberg het lank van George in sy orkes gebruik gemaak. Hansie noem ook dat George ‘n baie beleefde en goedgemanierde mens was wat sy vrou en kinders met sagtheid en respek hanteer het.

George Abrahamse het oor soveel uitbundige talent beskik dat dit moeilik is om dit met woorde vas te vat. Ander spelers van snaarinstrumente kan ‘n mens seker op die spoor bring. Tienie Coetzer, self ‘n vermaerde banjospeler, het gesê :”Jy vergelyk nie vir George Abrahams met iemand anders nie, want hy was in ‘n klas op sy eie !”  Louis Engelbrecht, self ook ‘n banjospeler van formaat, sê dat hy met die Groot Trek-herdenking in 1938 na Dawid de Lange en sy orkes in Bezuidenhoutpark, Johannesburg, gaan luister het en toe vir die eerste maal George hoor banjo speel het : “Wat ‘n belewenis! Ek sal dit nooit vergeet nie.” Dan vervolg hy :”George het my ook later probeer leer, maar ek kon hom nooit nadoen nie. George was werklik ‘n puik musikant en was ewe tuis met die kitaar, klavier en ander instrumente. Hy het later dikwels by my aan huis gekom en dan was daar gespeel……. Dit was ‘n belewenis!” Twee persone wat George self sien speel het, het opgemerk dat dit te eienaardig was dat dit lyk of sy hand nie beweeg nie maar stilstaan en daardie stroom musiek kom net uit die banjo uit. Mannetjie Pieterse vertel dat hy een aand by ‘n huispartytjie in Stonestraat, Belgravia, Johannesburg , was waar Dawid de Lange en George Abrahams musiek gemaak het. Hy het later saam gespeel en was in die wolke toe Dawid hom gevra het om saam met hulle plaatopnames te maak. Dan sê Mannetjie : “George het my toe die volle kitaarakkoorde geleer en my spel het drasties verbeter.”

George Abrahamse se ongekende handvaardigheid met ‘n banjo en sy aanvoeling vir die vertolking van musiek is ongekend. Met sy banjo het hy lewensbloed in enige orkes ingepomp en hulle gelei na hoogtes wat hulle nie geken het nie. Selfs Faan Harris het met die opname van “Anna se man” geproe waartoe George met ‘n banjo in staat is. George se invloed op die vertolking en ontwikkeling  van ons tradisionele musiek, is miskien nog nie na werklike waarde geskat nie. Miskien moet daar weer diep daaroor nagedink word en aan hierdie banjovirtuoos sy volle erkenning gegee word.

George Abrahamse, ‘n man wat as banjospeler nie ‘n tweelingbroer het nie!

Jan Marais en die Krugerbroers

janmarais

Voor : Jannie Kruger en Jan Marais en agter Baby en Chris Kruger

Hierdie viermanskap was eintlik ook ‘n familieorkes. Die Krugers was broers en Jan Marais en Chris Kruger het later met twee susters getrou. ‘n Verdere voordeel was dat hulle al vier by die Spoorweë in Germiston gewerk het en daarom noue kontak met mekaar gehad het. Hulle het mekaar aanvanklik by die werk raakgeloop en besluit om ‘n orkes te vorm. Jan Marais het die konsertina gespeel en Jan en Chris Kruger was die kitaarspelers. Die vierde lid was Willie Kruger, ook  Baby genoem, die banjospeler van die orkes, wat soms as sanger opgetree het en selfs per geleentheid saam met Dawid de Lange op die verhoog was. Dié orkes het ‘n baie kenmerkende klank in hulle musiek, wat daaraan te danke is dat Jan Marais ‘n 2ry Lachenalkonsertina gespeel het en later toe hy dit kon bybring ‘n 3ry aangeskaf het.  Die Lachenalkonsertina het ‘n skerper klank as die Wheatstones.

Hierdie viermanskap se orkes het goeie musiek gemaak en was voortdurend sterk in aanvraag. Dawid de Lange het ook gou van hulle vermoë bewus geword en ses snitte saam met hulle laat opneem. Van die wysies is van die bekendstes van Dawid se musiek. Die “Wapadwals” [Duitsweswals] is seker die bekendste en Randall en Koba Wicomb het dit weer summier op die tafel gesit met hulle “Rooirok”. ‘n Ander wysie wat hulle gespeel het soos seker net hulle dit kon doen, is “Hessie se witperd”. Enige musikant wat die stuk musiek wil speel, kan gerus eers na hulle ”Hessie se witperd” luister en hoor hoe word dit gespeel en vertolk. Hulle het ook vyf snitte op hulle eie laat opneem en weereens val die besondere klank van die orkes ‘n mens op. Die ritme van die musiek is aansteeklik en hulle musiek klink so asof dit netjies in ‘n doek toegebind is. Die Krugerbroers sprei as ‘t ware ‘n kombers oop waarop die konsertina gemaklik lê.

Jan en die Krugers het gereeld by danse, konserte en bruilofte gespeel en het selfs aan ‘n kompetisie vir boereorkeste in Springs se stadsaal deelgeneem. Baie en bekende orkeste het deelgeneem en uiteindelik is Jan en die Krugerbroers as wenner aangewys.

Daar is tans niks meer van die orkes bekend nie, maar hulle musiek wat vir ons behoue gebly het, is ‘n kleinood in ons musiekskat.

Jan Visser

janvisser

Jan Visser

Dit val ‘n mens op dat sekere ouer musikante bekendheid verwerf met hulle voornaam en van en dat andere weer die aanspreekvorm oom en die vrouens, nie tante nie, maar ouma bykry. Waarskynlik het dit baie te doen met streeksgewoontes en omgewingsmaniere en die musikant se eie maniere en gewoontes. Een van die musikante wat met die aanspreekvorm oom bekend geword het, is Jan Visser van Stellenbosch.

Johannes Frederick Hermanus Visser is op 22 Julie 1883 gebore in Piketberg se wêreld. Na sy skoolopleiding gaan werk hy as ‘n winkelklerk in Porterville. Dié werk geval hom nie erg nie en hy kies koers na die wamakersparadys, die Pêrel, toe om hom as wamaker en grofsmid te bekwaam. Hier in die Pêrel het oom Jan baie jare gewerk en met Mollie Wiggins in die huwelik getree en hulle kinders is daar gebore. Dit is nie bekend wanneer die musikant in hom ontwaak het en hy die boerekonsertina en kitaar begin speel het nie. Maar dat hy ‘n boerekonsertina goed leer speel het, is nie te betwyfel nie. Vroeg in die negentiendertigs verhuis oom  Jan en sy familie Stellenbosch toe, waar hy tot die einde gebly het. Gedagtig daaraan dat hy toe reeds by die vyftig jaar oud was, is dit verstaanbaar dat hy nie meer veel konsertina gespeel het nie. In Stellenbosch loop hy toe oom Pietie le Roux raak wat die kole weer aanblaas en oom Jan vat vlam. Hy oefen so erg en aanhoudend dat tant Mollie naderhand begin kla het.  Maar nouja, oom Jan was begeesterd en dit was gelukkig nie te lank nie toe is hy weer vlymskerp. Vermoedelik het sy konsertina met al die geoefen die gees gegee en hy kies koers na die musiekhandelaar, R Müller in Kaapstad, om ‘n nuwe konsertina te koop. Hier loop hy hom vas in oom Boy Solomon, wat by R. Müller gewerk het, en raak bekeer tot die geledere van die 6ry-duetspelers. Oom Boy self het ‘n 80-noot duet gespeel en hy het sy bekeerling goed touwys gemaak en op die pad gekry. Of dit nou met die boerekonsertina of die 6ry was wat oom Jan tant Mollie so moedeloos geoefen het, sal ons nie meer weet nie.

Voordat die boerekonsertina nou vir goed in die verlede agterbly, moet prof. Charles Fensham darem ook aan die woord kom. Prof. Charles, dosent in Semities tale, het self sy eerste treë met ‘n boerekonsertina gegee en later eers ‘n ander een aangeskaf. Van oom Jan Visser deel die professor mee : “Toe ek in Stellenbosch gekom en ‘n slag oopmond  vir oom Jan Visser geluister het, het ek weer ‘n konsertina aangeskaf. Tussen hakies, oom Jan Visser was ‘n man wat die wonderlikste goed uit ‘n tweery [boerekonsertina] kon haal”.[Piet Bester, Gedenkboek 1, bl 127].

Oom Jan moes die 6ry vinnig onder die knie gekry het, want in 1932 is die vier snitte opgeneem wat op sy twee plate is, net met twee kitare as begeleiding, oom Jan het die res bygesit. Hierdie vier snitte het uiters gewild geraak onder konsertinaspelers tot vandag toe. Daar het baie plate en CD’s op die mark verskyn, met een of meer van die stukke op. Maar ons wag nog vir die speler wat dit weer op ‘n 6ry speel soos oom Jan het. Kyk ‘n mens na die groot hande en dik vingers van die grofsmid  Jan Visser, op hulle gesinsfoto, dan wonder ‘n mens, hoeveel maal het hulle gebrand of is hulle raakgeslaan . Maar as oom Jan die 6ry in 1932 vat vir die opnames, is daardie vingers verstommend rats en beweeglik. Dis nie ‘n wonder dat prof  Fensham se mond oopgehang het toe hy na oom Jan gesit en luister het nie. Oom Jan op sy beurt, moes seker weer oopmond geluister het toe sy ‘leermeester’, oom Boy Solomon, sy 80-noot gespeel het.

Mev. Jo Fourie het met haar omswerwinge op soek na volksmusiek, in Julie 1953, ook in Stellenbosch ‘n draai gemaak en besoek afgelê by oom Jan Visser. Mev Fourie het toe die volgende opgeteken : “Met ‘n bietjie gesoek, kry ek toe mnr Visser ook  en gesels met hom in sy kamer. Hy speel op ‘n engelse konsertina bietjie groter as die van Hugo [Haar seun – Vier Fouries -  4ry]. Hy is amper 70 jaar oud en sê die stukke wat hy ken, is nie so oud as wat hy Saterdae-aande uit my versameling hoor nie………….Tenslotte het ek niks by hom opgeskryf nie, al speel hy op die regte manier en die gewenste stukke. Want hy wil plate laat maak daarvan soos hy al eerder gedoen het en al die profyt vir hom hou. Hy was eerlik maar vriendelik daaromtrent, ek het natuurlik niks meer aangedring nie.” Dit is ‘n jammerte dat mev Fourie oom Jan so maklik laat loskom het. Die opnames is toe later gemaak maar het nie op die mark gekom nie. Deur dr Hans la Grange se toedoen het die musiek ons ter hand gekom. Maar dit was nie meer die Jan Visser van 1932 nie, die ouderdom en die rumatiek  het sy tol reeds geëis.

Dit is nie bekend presies wanner oom Jan oorlede is nie, maar ons dink aan een van ons vaardigste spelers van ‘n 6ry, wat ‘n kompakte maar dodelike bydrae tot ons musiek gemaak het. Hy het ook musiek gekomponeer wat ongelukkig saam met hom graf toe is.

Oom  Jan Visser was ‘n minlike, netjiese en fier mens en musikant en ons erken hom vir sy bydrae.

Voortrekkerdanskwartet

voortrekkerkwartet

Joe Snyman, Boy Solomon, Klaas Ehlers en Gerrit Victor

Die Voortrekkerdanskwartet is die eerste boereorkes wie se plate in die negentiendertigs op die mark verskyn het. Einde Mei of  begin Junie 1930 is opnames van die Voortrekkerdanskwartet gemaak en op 7 November 1930 is hulle musiek te koop aangebied, Columbia LE 1, 2, 3. So het dan die eerste boeremusiek op die mark gekom in Suid-Afrika. Hierna volg die Vyf Vastrappers, Joe Snyman en andere se musiek.

Hierdie Kwatet het bestaan uit oom Boy Solomon wat die leier was en ‘n 6ry-duet of ‘n 80-nootduet gespeel het, Klaas Ehlers het die knoppiesakkordeon gespeel en Joe Snyman en Gerrit Victor het met die kitare begelei. Dit kom voor of die Voortrekkerdanskwartet ook ‘n geleentheidsorkes was wat net vir die opnames saam gespeel het.

Oom Boy Solomon het ook ander musiektipes laat opneem maar dan onder ander name. Hy het ook uitsendings behartig en was voortdurend besig om by geleenthede in sy omgewing op te tree.

Onder die eerste ses snitte wat op plaat verskyn het, was  Daar kom die Alibama en Dagbreekwals [2] wat groot byval gevind het by baie musikante, veral die besondere vertolking van oom Boy val goed op die oor.

Boy Solomon

boy1 boy2
Boy Solom met 6 ry Boy Solom met 80-noot

Saul Benjamin Solomon is op 13 Desember 1878 in die Paarl gebore. Hy voltooi sy skoolopleiding en tree uiteindelik by die musiekhandelaar R Müller in diens en hou hom sy lewe lank met musiekinstrumente wat hy stem of herstel, besig. Hy tree met Catharina du Toit in die huwelik en hulle het ses kinders, vier dogters en twee seuns. Wanneer oom Boy begin musiek maak het is nie duidelik nie en sy een dogter sê net dat solank sy kan onthou maak haar pa musiek. Hy was ook goed bedrewe met die klavier, traporrel, trekklavier en viool maar het hom uiteidelik net op die konsertina toegelê.

Oom Boy was wyd bekend en het oral opgetree met plesiere en ander geleenthede. Hy het heelwat uitsendings oor die radio gedoen en met geleenthede soos Kersfees in sy omgewing die gepaste musiek gemaak. Of oom Boy musiek kon lees en skryf , word nêrens vermeld nie maar wat wel vermeld word is dat hy ‘n ongelooflike hoeveelheid musiek uit die kop geken het en “kon vir aande aanmekaar speel sonder om een nommer te herhaal. [Piet Bester, 1, bl 48]. Hy het ook uit sy pad uitgegaan om met sy musiek liefdadigheidsorganisasies te ondersteun.

Oor sy musiek was oom Boy baie ernstig. Hy het erns daarmee gemaak om musiek korrek te speel en te vertolk. Hy het inderdaad met oorgawe gespeel en Harry Bartz, een van sy leerlinge, bevestig dit. Harry moes lank les neem en oefen om ‘n kopknik van oom Boy te kry. Hierdie hoë standaarde het hy ook aan homself gestel en dit nagestrewe. Harry Bartz en Joe Sierra sê beide dat oom Boy een van die beste konsertinaspelers is wat ons land nog opgelewer het. En tog so tussen al die erns met die musiek deur het hy snaakse en eienaardige instrumente gemaak om dit vir sy luisteraars interessant te maak. Hy het op ‘n keer ‘n stuk konsertina en ‘n stuk van ‘n akkordeon aanmekaar gelas en netjies daarmee musiek gemaak.

Dit is nie seker met watter konsertina oom Boy gespeel het in die loop van sy lewe nie. Die twee foto’s tot ons beskikking, werp ook nie genoeg lig nie. Dit wil voorkom of die eerste opnames van die Voortrekkerdanskwartet met ‘n 6ry gemaak is, want oom Boy sit met een op sy skoot. Op die ander foto wil dit voorkom of oom Boy ouer is en dan sit hy met ‘n 80-noot op sy skoot. Hoe dit gekom het dat oom Boy anders as die oorgrote meerderheid konsertinaspelers ‘n 6ry verkies het, is ook nie duidelik nie. Miskien het hy met sy uitbundige talent gevoel dat hy so minder afhanklik is van begeleiers en homself kan begelei. Oom Boy wat maar klein van gestalte was, lyk nogal snaaks met die groot instrument op sy skoot, miskien moes hy sit om dit te kan behartig.

Oom Boy Solomon was ook ‘n mens wat netjies en aankant gelewe het. Hy het geen alkohol gebruik nie en net soos met sy musiek het hy sy kinders streng opgevoed maar was ‘n liefdevolle pa.

Op 30 April 1950 is oom Boy oorlede en is in die Woltemadebegraafplaas te ruste gelê. Slegs ‘n opgeskote steenmuurtjie is om die graf gebou sonder kopstuk.

‘n Baie begaafde konsertinaspeler met die ratste vingers, het tot rus gekom.

Willie Welgens

williewelgens

Willie Welgens

Marthinus Wessel Welgens is op 20 September 1918 in Brakpan gebore. Nog voor hy skool toe is, het sy musiektalent al aan die deur geklop. Toe hy skool toe gaan klim hy op die verhoog met ‘n skoolkonsert en speel sy mondfluitjie. Kort hierna kom die kitaar aan die beurt en klein Willie kry ook die instrument gou onder beheer. Net soos sovele andere voor hom, neem hy hierna die konsertina onder hande en vaar baie goed daarmee. In Willie se geval was dit ook net soos met ander musikante van die tydperk. Hy ontvang nie formele musiekopleiding nie maar moet met suiwer talent en wat jy van andere kan leer, oor die weg kom. Jou grootste bate is jou ore, waarmee jy die musiek optel en ook moet hoor hoe jy self vaar. Willie het skerp ore gehad wat gou vir hom gesê het hy vaar nie te sleg nie. Dwarsdeur sy skooljare oefen en speel hy met toewyding en toe breek die tyd aan om uit te spring en ‘n loopbaan te gaan soek.

Willie loop hom toe in die heuningpot vas toe Dawid de Lange en George Abrahamse sy pad kruis. Wat daarna gebeur het, is reeds genoem en vir twee jaar ry hy op die kruin van die golf.

Die voortekens van die Tweede Wêreldoorlog het teen die einde van 1938 sigbaar begin word en almal, ook die musikante, het hulle begin skik vir wat mag voorlê. Goeie musikante het  al meer op ‘n semi-vryskutbasis begin werk of vastigheid begin soek. Willie volg toe die voorbeeld na en sluit as 20-jarige by Hendrik Susan se orkes aan. Hy gaan saam met die orkes op reis deur die land en bly soms vir lang tydperke in Kaapstad om koffiehuiskonserte aan te bied en radiouitsendings te doen. Hendrik Susan het ook so tussen alles deur ruim fondse vir die Reddingsdaadbond ingesamel. Met ‘n verblyf in Kaapstad ontmoet Willie toe vir Babs en op 10       Julie 1943 tree hulle in die huwelik.Vir nog twee jaar of wat toer hy saam met die Orkes rond, maar teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Willie die swewersbestaan vaarwel toegeroep en verder meer net vryskutwerk gedoen of werk wat hy kon doen op gereelde basis sonder om rond te swerf. Hy het ‘n lang ruk saam met Freddie Fischer gespeel  en in 1945 saam met Freddie aan ‘n boeremusiekkompetisie van die SAUK oor die radio deelgeneem en gewen. Willie het ook op ‘n gereelde basis vir tien jaar by ‘n dansklub, Rosemarie, gespeel.

Willie het verskeie langspeelplate gemaak saam met oorwegend die musikante van die Suikerbossieorkes en dus in ‘n tradisionele styl, maar die winde van verandering het al sterker deur die Afrikaanse musiekwêreld begin waai en vryskutwerk het al skaarser begin word.

Willie Welgens het ook oor die vermoë beskik om te komponeer en het heelwat komposisies nagelaat.

Op 4 Junie 1973 is Willie oorlede. ‘n Besonder begaafde musikant wat ‘n groot bydrae tot ons tradisionele musiek gemaak het, se lewe was ten einde, maar die bydrae wat hy saam met sy Suikerbossieorkes gemaak het, sal bly voortleef.

Suikerbossieorkes

Die Suikerbossieorkes het sy naam daaraan te danke dat die eerste plaat wat hulle saam met Dawid de Lange gemaak het se een kant Suikerbossie was, wat soveel sukses behaal het. Vir Willie Welgens, wat as jongeling van agtien jaar tussen die ouer manne beland het en slegs  kort tevore saam met Dawid, George Abrahamse , Rup Meyer en die ander musikante begin werk het, was dit ‘n droomdebuut. Willie het later self gesê dat dit een van die hoogtepunte van sy lewe was. Hy het sy orkes wat toe gestig is, gepas, die Suikerbossieorkes genoem.Hierdie skielike sukses het egter ook hoë eise aan sy talent en vermoë gestel, want in die volgende twee jaar sou hy sy orkes moes lei met die baie opnames wat Dawid de Lange soms kort op mekaar gemaak het. Hy kon as jong orkesleier egter steun op die gesoute orkeslede soos George, Rup en ook Dan Truter. Hy het die stang vasgebyt en net bly voortbou. Dit sê baie van ‘n jongman soos Willie se vermoë dat hy wat net op gehoor gespeel het, die pas kon volhou en net bly groei het. Eers later sou Rup Meyer hom in die lees en skryf van musiek inlyf en die fyner kunsies met die kitaar leer. Willie tree ook in diens by Gallo se kitaarfabriek  wat aan die ateljees gegrens het in Troystraat, Johannesburg. Hy was nou ook byderhand om begeleiding te doen indien Dawid en selfs Hansie van Loggerenberg dit benodig het. Maar die era van Dawid de Lange se optredes en opnames was besig om uit te loop en die Tweede Wêreldoorlog was besig om om die hoek te loer en Willie het dit in 1938 gerade geag om ‘n ander koers in te slaan.

Na die oorlog het Willie nog steeds die naam Suikerbossieorkes gebruik met verskeie plaatopnames wat vir langspeelplate gemaak is, maar die Suikerbossieorkes van voor die Oorlog se tyd het verstryk en daar is meer op ‘n vryskutbasis saam gespeel.

Chris Blignaut

chrisblignaut

Chris Blignaut

Christian August Blignaut is op 27 April 1897 in Johannesburg gebore as seun van Phillippus Jacobus Blignaut en Catharina Schock. Hulle was ‘n huisgesin met twaalf kinders. ‘n Ramp tref die huisgesin toe Phillippus Blignaut ‘n maand voor Chris se geboorte oorlede is en Catharina haar twaalf kinders verder alleen moes grootmaak.

Chris se ma het die huisorrel bespeel en gevolglik het die jong Chris van jongsaf musiek gehoor en saam met die ander kinders om die traporrel gesing. Hy as jongste van die Blignautkinders het van vroeg af  talent getoon in die musiekrigting maar daar was nie middele en tyd om veel aandag daaraan te skenk nie, want die jongspan moes eerstens versorg en opgevoed word.

Na die jare op die skoolbanke begin hy rondkyk vir ‘n manier om ‘n lewe te maak en na ‘n paar onsuksesvolle pogings tree hy in diens by ‘n versekeringsmaatskappy en hou daarmee vol totdat hy uitendelik daar afgetree het as bestuurder.  Alhoewel Chris nooit sy sangloopbaan as sy nering beskou het nie, was hy ernstig daaroor en het aan die begin van die negentientwintigs sangonderrig ontvang by vier verskillende sangmeesters. Hy was toe reeds ‘n getroude man want in 1919 het hy in die huwelik getree met Maude Pienaar. Hulle het twee kinders gehad, ‘n seun René en ‘n dogter Johanna Christian. Die kinders het later egter verkies om die rug op hulle pa se sang en musiek te draai.

Chris het nou aan kompetisies deelgeneem en gewerskaf  om die oog van die uitsaaiers en platemaatskappye te vang en ‘n staanplek vir hom los te woel. Hy vind ‘n staanplek maar die geeste in bevel ly toe nog aan die illusie dat Afrikaans en die Afrikaanse kultuur nie so ‘n goeie weiveld is nie en dat die jong Chris liewer die verhoognaam Harold Wise moet aanneem en in Engels en Hollands moet sing. Sy eerste optredes is dan ook in Engels. Chris besef egter baie gou dat hy nie ver gaan kom as hy nie in Afrikaans onder sy eie naam optree nie. Sy mense wil hulle eie taal en musiek hoor. Dit was ‘n wyse besluit en vir meer as vyftig jaar het dit vir hom goeie vrugte afgewerp en het hy een van die bekendste sangers van sy tyd in Suid-Afrika geword.

Met die insinking in die platebedryf wat met die depressie van 1929 tot in die dertigs plaasgevind het en die groot droogte wat daarmee saamloop, het veranderinge en klemverskuiwings in die platewêreld meegebring wat die plaaslike musikante en kunstenaars goed te baat gekom het. Chris Blignaut is dan ook in 1930 die eerste kunstenaar waarmee Polliack ‘n kontrak sluit. Sy eerste opnames vaar baie goed en die wiel is aan die rol. Hierna het Chris nog meer as twee honderd opnames gemaak wat op die mark geplaas is. Elke paar jaar het hy langverlof geneem en op ‘n konserttoer deur Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe gegaan. Hy het oor die jare vyf sulke toere onderneem. Met die toere het bekende musikante soos Jim Müller hom vergesel om hom te begelei.

Vir die maak van opnames het Chris Blignaut van heelwat bekende kunstenaars gebruik gemaak. Henry Jansen, Dan Bothma, Willie Welgens, Jim Müller en Hansie van Loggerenberg en andere. Daar was ‘n groep wat as die Wolbekke bekend was en het Chris op ‘n hele aantal opnames begelei. Silwer de Lange en Faan Harris was vir ‘n stuk of tien opnames deel van die Wolbekke.

Sy plate is in baie huise in en buite ons landsgrense gespeel en sy konserte is deur baie mense bygewoon. Chris Blignaut het oral ‘n huishoudelike naam geword en hy was ‘n geliefde en gerespekteerde kunstenaar by sy mense. Toe hy in die negentienvyftigs die tuig neerlê, om darem nou bietjie rustigheid en kalmte in sy lewe te kry, het hy nie voorsien dat langspeelplate op hande was nie. Weereens moet hy op sy oudag inspring en hard werk om aan die behoefte te voorsien. Gelukkig het daar soveel vordering met oponametegniek plaasgevind dat die beproewings nie meer so oorweldigend was nie.

Op 21 Julie 1974 het die uurglas uitgeloop en het Chris Blignaut vir die laaste maal afgesaal.

Chris Blignaut het ‘n omvangryke bydrae oor byna vyftig jaar tot die Suid-Afrikaanse sangtoneel gemaak. Hy het hom met verskillende musiektipes besig gehou maar wat die Afrikaanse volksmusiek aangaan, het hy immergroen bydraes soos Ou ryperd en andere bygedra. Met sy vermoë om lirieke te skrywe, het hy ook van leengoed, eiegoed gemaak. Hy het gepoog om oor die jare vir almal iets  te gee om te neurie. Sy sang strek oor alle luime en emosies, van die stuitige tot die ernstige en soms lirieke met redelik skurwe hakke. Hy het saam met ander sangers soos Dawid de Lange, die pad oopgekap vir hulle opvolgers wat op die oomblik soveel sukses behaal. Van sy bydraes sal maar altyd op die donkie se rug wees as sy mense verder gaan.