Oorsprong

Die oorsprong van  boeremusiek is soos ‘n boom met wortels wat uit verskillende rigtings kom. Eerstens het die term boeremusiek eers in die tweede helfte van die twintigste eeu in omloop gekom en kom dit glad nie in die vroeëre geskrifte voor nie. Loop ‘n mens terug op die spoor van die musiek wat as boeremusiek bekend geword het, dan blyk dit gou dat die setlaars hulle volksmusiek en –instrumente uit die stamlande meegebring het en dat daar nog steeds beïnvloeding daarna was soos wat die musiek en danse in die stamlande ontwikkel en gegroei het.

Veral in die hawestede het die nuwe modemusiek en -danse spoedig met die skepe saamgekom en bekend geword. Maar heel gou het die musiek ‘n eie karakter en aanslag gekry en soos die setlaars ingeburger en van die stede begin wegbeweeg het, het die invloed van leenmusiek al kleiner geword. ‘n Eie musiekkultuur het oral begin ontwikkel wat musiek wat wel geleen is, inheems gemaak het en al meer eie musiek geskep het wat by die karakter en behoeftes van die inwoners ingepas het. Invloede en omstandighede uit eie bodem het mettergaan deurslaggewend geword en het ‘n musiekskat ontstaan wat inheems en eie is. Hierdie musiek is van geslag tot geslag deur gebruik oorgelewer totdat ‘n gedeelte daarvan van 1930 af op grammofoonplate vasgelê is. Verskeie navorsers het die afgelope ses dekades die land deurreis en tradisionele– en volksmusiek opgeteken en so van moontlike uitsterwing gered. Sedert die naam boeremusiek in omloop gekom het, het daar soveel ontwikkelings in dié musiek plaasgevind, dat dit deesdae nodig is om te omskryf van watter boeremusiek ‘n mens praat.  Die Tradisionele Boeremusiekklub is gerig op die bewaring en gebruik van die tradisionele– en volksmusiek van die Afrikaanstaliges tot met die begin van die Tweede Wêreldoorlog.