Karakter

Boeremusiek is dans- en singmusiek wat sedert 1652 in Suid-Afrika ontwikkel het. Musiek uit die stamlande was aanvanklik oorheersend soos die militêre orkeste dit gespeel het. Heel gou egter het die musiek ‘n eie inheemse en plattelandse karakter ontwikkel met dat die bevolking begin uitsprei het en al meer op hulle eie vermoë om musiek te maak aangewese was. Eie belewenisse en omstandighede het al meer in die sang en danse inslag gevind.

Musiekinstrumente wat maklik vervoerbaar was, het veral ‘n rol gespeel in die vestigingsjare. Viole, fluite, serfyne, verskillende snaarinstrumente en ook knoppeisakkordeons, het saam op reis gegaan die binneland in. Die vestiging in die binneland was nog nie mooi afgeloop nie toe die boerekonsertina sy verskyning gemaak en die toneel oorheers het. Die konsertinas uit Engeland, die tjello, mondfluitjie, banjo en ukulele het later bygekom. In die stede en dorpe het klaviere en traporrels ook ‘n besondere rol gespeel.

Boeremusiek is musiek wat oorwegend op ‘n konsertina, viool, serfyn en kitaar gespeel word soos dit net in Suid-Afrika gedoen word.