Willem Hendrik Frederik (Willie) Baucher

Willie is op 10 Julie 1918, in die distrik Swartruggens gebore. Op 20-jarige ouderdom het hy met die konsertina begin en sê dat Attie Dercksen hom so 'n bietjie touwys gemaak het. Later het hy ook die kitaar, orrel en klavier bemeester, maar hom meesal op die konsertina toegelê.

Willie het ook 'n hele paar komposisies agter sy naam: Piet se banjo, Piet Grootman, Erfdeel settees, Welkom wals.

Hy het slegs 78-spoedplate gemaak en tydens sy eerste opnames is hy deur die volgende welbekende persone begelei:

Willie Welgens : Kitaar George Abrahams : Banjo Dave Truter : Klarinet Danny du Toit : Basviool Dawid de Lange : Sanger

Daarna het die volgende persone hom meesal begelei:

Tiny Mey : Trekklavier Jan Breedt : Kitaar George Abrahams : Banjo Vic Wiehahn : Basviool (wat hyself gemaak het) Stan Murray : Kitaar Jack Dowle : Orrel

Willie vertel dat hulle ongeveer 1944 of '45 in Primrose op 'n bruilof gespeel het. Dit was 'n Saterdag en hulle moes dieselfde aand 'n lewendige uitsending doen by die SAUK in Johannesburg tussen 21h30 en 22h00. Hulle was gelukkig betyds by die ateljee waar 'n dametjie reeds besig was om die mikrofone vir die verskillende instrumente op te stel. Sy het aan Willie gevra of iemand gaan sing en op die ingewing van die oomblik sê hy ja, hy gaan sing. 'n Mikrofoon is toe vir hom opgestel. Daar was glad nie 'n sangnommer op hulle program nie en nie een van hulle het ooit tevore 'n sang-oudisie geslaag nie!

Toe die oomblik aanbreek, is daar met die program begin en hulle speel sommer windmaker, want hulle het mos 'n gawe oefening by die bruilof gehad! Terwyl hulle besig was met Sonop van C. en W. Cooper, besluit Willie dis tyd om te sing en stap na die mikrofoon toe en begin ewe lustig sing. Hy sê vir hom het dit baie mooi geklink en hy was baie trots dat hy daarin kon slaag om ook oor die radio te sing!

'n Paar dae na die uitsending het Tiny Mey, wat die leier van die orkes was, 'n brief van die SAUK ontvang waarin hy in kennis gestel is dat sy kontrak vir toekomstige uitsendings gekanseller is. Die rede was dat die "sanger" - soos Willie dit self gestel het - "onbekwaam was!" Tiny sê dat hy eers baie jare na dié voorval weer toegelaat is om aan radio-uitsendings deel te neem. Willie is baie spyt dat hy Tiny so 'n groot onreg aangedoen het, maar tog het hulle, ten spyte van die voorval, groot vriende gebly. Tiny is 'n baie groot man, en 'n mens kan sien dat hy ook 'n groot hart het. Onlangs het hy weer Willie as 'n gaskuns-tenaar gebruik toe hy in 'n program van "Konsertinaklub" opgetree het!

Willie het baie lank in Frank Mey, Tiny se vader, se orkes gespeel. Daar was ook 'n paar baie bekendes in daardie orkes:

Frank Mey  : Tromme Anna Mey (Frank se vrou) : Banjo Seun Coetzee : Banjo Danie Strauss : Hawaiïese kitaar Danie Barnard : Kitaar Boet Coetzee : Klavier

Willie vertel dat hierdie orkes in die veertigerjare die tweede plek in 'n boereorkeskomp-etisie aan die Oos-Rand ingepalm het. In 'n soortgelyke kompetisie in Pretoria het hulle die vierde of vyfde plek ingeneem. In laasgenoemde kompetisie het vyf en twintig orkeste deelgeneem.

Willie het die volgende spelers baie goed geken: Faan Harris, Pietie Prinsloo, Willie Welgens, J.P. Bodenstein en Fanie Bosch. Ons het die volgende plate van hom nog in bewaring:

Piet Grootman  Elke Dag  GE 472 Gallotone Die Tukkel settees  Die Welkom wals GE 507

(Tydens bogenoemde opnames het Hendrik Susan se orkes hom  begelei.)

Middernag  Ons Jool saam GE 508 Flippe se vastrap  Oela se Bokke AC 905 Trek Piet se Banjo  GE 462 Willie kom laat  Waatlemoen Fees  AC 915

Willie was en is nog steeds 'n uitstaande konsertinaspeler en kan met die bestes van sy tyd vergelyk word. Dit is jammer dat hy nie meer aktief is nie. Willie, alhoewel ons weet dat die jare nie stilstaan nie moet jy nooit vergeet nie, hoe ouer die wyn, hoe beter die smaak!